XAMDEBOO NUUS - Die Aberdeen Vroue-landbouvereniging (VLV) het op 15 April na Griekeland gereis, sommer daar op die stoep van die Kamdebo-padstal.
Alicia van Heerden, sameroepster van opvoeding en kultuur, vertel dat 19 dames teenwoordig was.
“Ons April-vergadering was ’n belewenis waar lede op ’n interaktiewe en verbeeldingryke reis na Griekeland geneem is.
Met die tema, Van tuin tot tafel, is die geure, kleure en ryk kultuur van hierdie historiese land op ’n unieke wyse ervaar, en elke aspek van die oggend het bygedra tot ’n gevoel van ontdekking en saamwees,” vertel Van Heerden.
Christelle Nel het geopen uit Psalm 52:10, waarin die olyfboom as simbool van ’n lewe gewortel in geloof uitgelig is.
Daar is ook stilgestaan by Wêreld Aardedag (22 April) en die belangrike rol van skoenlappers in ons ekosisteem.
“Lede is op ’n verbeeldingryke reis na ’n klein Griekse kusdorpie geneem. Met sagte instrumentale musiek en ’n beskrywende skets is ’n prentjie geskep van witgekalkte huise, die geur van vars kruie en die eenvoudige, maar ryk leefwyse van die mense. Hierdie atmosfeer het die toon aangegee vir die res van die oggend.”
Daar is ook gefokus op die Griekse benadering tot origanum, roosmaryn, tiemie, laventel en kruisement - dit speel nie net ’n rol in die kombuis nie, maar ook in tradisionele medisyne en kulturele gebruike.
Annalie Lategan (sameroepster van openbare sake) het vir elke lid ’n takkie kruie oorhandig, terwyl sy die unieke eienskappe, gebruike en simboliese betekenis daarvan verduidelik het.
Hierdie interaktiewe benadering het die ervaring besonders en tasbaar gemaak.
Na ’n vasvra, is kruieplantjies as pryse uitgedeel.
Die aktiwiteit het bygedra tot ’n gesellige en interaktiewe atmosfeer.
Van Heerden het dieper insig gebied in Griekeland se geskiedenis en kulturele erfenis. Lede het interessante feite vanaf genommerde kaartjies voorgelees.
“Die ontstaan van demokrasie, antieke filosofie, die Olimpiese Spele, die rol van vroue deur die geskiedenis, die land se unieke argitektuur, geloofstradisies, mitologie en landboupraktyke is bespreek en dit alles vertel van ’n volk wat saam met die natuur leef.”
Die hoogtepunt van die oggend was sonder twyfel die heerlike Griekse “meze” belewenis waar almal saam kon proe en geniet; Spanakopita met tzatziki, Gyros met sagte pita en geurige lamsvleis en Kourabiedes as soet afsluiting.
Kamdebo-padstad het die disse voorberei en het die tema “van tuin tot tafel” tasbaar gemaak.
’n Griekse feite-vasvra het gesorg vir groot pret en het die oggend op ’n ligte en vrolike noot afgesluit na ’n oggend van samesyn, leer en inspirasie .
“Ons is weer herinner aan die waarde van eenvoud, gemeenskap en die mooi van die alledaagse.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’