Video
STEYNSBURG NUUS EN VIDEO - Personeel en bejaardes, wat nog kon, het vanmiddag, 18 Februarie, bontgestaan om water wat deur die Marais Steyntehuis in Steynsburg gevloei het op te vee, sodat 42 senior burgers die aand droogvoets kon tegemoetgaan.
Dié vloedwaters is veroorsaak deur swaar reën, en hewige water inlope in die Steynsburgdorpsdam. Dié dam kon die toeloop nie hanteer, en die keerwal agter die Walter Sisulu Munisipale geboue het gebreek.
Water het vanaf die kombuis-ingang die tehuis binnegestroom en regdeur die gebou gestroom. Personeel moes hulp inroep en aangesien dit na-ure was, moes personeel wat van diens af was, ook kom uithelp.
"Ons het met mag-en-mening ingespring en baie van ons erg verswakte bejaardes in C- gang het nie eers agtergekom dat daar water reg rondom hul beddens is nie," deel Stafverpleegster Dezi Anderson mee.
"Ete kon nie in die eetsaal bedien word nie, maar ons kombuispersoneel het die kospotte en eetgerei op trollies gelaai en seniors is bedien waar hul was!"
Die hoofstraat van Steynsburg is tans ook onder water.
"Ons sal Maandag 'n skadeverslag opstel, maar ek kan meedeel dat alle kantore, asook die ondersoekkamer en pakkamers se vloere, asook badkamers onder water was. Ek sien ook dat die matte nog met water deurtrek is."
Die eetsaal by die Marais Steyn tehuis vir bejaardes in Steynsburg nadat water by die kombuisdeur ingekom het en regdeur die tehuis gestroom het.
VERSKAFDE VIDEO: Steynsburg se hoofstraat is vir verkeer gesluit.
'Ons bring jou die nuutste Steynsburg, Karoo nuus'