GRAAFF-REINET NUUS - Boere vanuit alle oorde kla dat vlakvarke nou ook pasgebore lammers aanval en vreet. Vlakvarke is bekend as vreters van wortels, veral van bome, en bolle wat ondergronds groei. Hulle eet ook waatlemoene, pampoene en ander ondergrondse groentes en het 'n groot liefde vir die grasgroen wortellote van Wilgerbome wat sigbaar in rivierlope groei.
Maar deesdae word 'n kommerwekkende patroon bespeur. Alhoewel vlakvarke baie swak sien, ruik hulle goed en die reuk van vars bloed, lei hulle heel moontlik na pasgebore lammers.
Oorbevolking is waarskynlik een van die redes vir dié nuut-aangeleerde eetpatroon. Gewoonlik kry vlakvarke slegs drie kleintjies per jaar, maar sodra daar 'n bedreiging bestaan, hetsy hongersnood, oorbeweiding, uitroei van hul normale habitat en oormatige jag, sal 'n vark meer kleintjies kry - dikwels tot ses op 'n slag - nadat die sog vir drie maande dragtig was.
Vlakvarkfeite
'n Vlakvarkpaar maak saam die kleinspan groot, en hou hul aanvanklik ondergronds tot hul saam met die ouers kan uitgaan.Volgens Wikipedia is die vlakvark 'n wilde vark wat hoofsaaklik in Afrika suid van die Sahara woon. Dit dwaal oor die oop vlaktes, wei op bessies en grasse en gebruik sy sterk slagtande om wortels op te grawe en boombas te verwyder. Die gewone vlakvark en die woestynvlakvark is die twee hoofspesies.
Albei het soortgelyke fisiese eienskappe, maar woestynvlakvarke kan droër klimate weerstaan en word tipies in die savannas van Noord-Kenia en Somalië aangetref.
Twee van die vlakvark se mees kenmerkende gedragseienskappe, is sy neiging om op sy voorpote te rus terwyl hy eet of drink en sy penreguit stert wat opsteek as hy hardloop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’