GRAAFF-REINET NUUS - 'n Kwarteeu gelede het 14 April 1994 te midde van groot opgewondeheid aangebreek. Dit was ‘n dag vol verwagting - die geboortedag van ‘n nuwe kerk vanuit die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika.
Afgevaardigdes van beide kerke het in ‘n feestelike stemming opgedaag by die kerkgebou van die Suid-Afrikaanse Gestig-gemeente, die oudste sendingkerk in die land in Belhar buite Kaapstad.
Die afgevaardigdes en die besoekers het lied na lied spontaan saamgesing.
Teen presies 11:05 het die voorsitter, wyle dominee Nic Apollis, die verrigtinge begin. Al die lede van die moderature het hul plekke agter die groen tafel ingeneem. Wyle dominee, dr. Sam Buti en ds. Nic Apollis, die moderators van die twee sinodes, het opgetree as voorsitters.
Na die sing van die lied Bind us together, het ds. Apollis gelees uit Nehemia 2:11-20, waarna prof. Takatso Mofokeng, aktuarius van die NG Kerk in Afrika, die vergadering ingelei het met gebed.
Beide moderators lees voor vanuit die besluite van hul onderskeie kerke waarin hulle die konsepkerkorde aanvaar as die fondasie vir die nuwe kerk. Die voorsitter vra dan dat die nuwe kerk sal konstitueer op die basis van die konsep kerk orde. Alle afgevaardigdes word gevra om te staan en hardop die Confirmation to Constitute te lees. Hierna is die lied Die Kerk se hoop en ere is Christus onse Here gesing, waarna ds. Marcus Mphoto voortgaan met gebed.
Ds. Apollis lees die aanhaling vir kerkeenheid tussen die NGKA en die NGSK en dr. Buti en ds. Apollis lees dit namens die twee kerke. Nadat die aanhalings geteken is, uiter ds. Apollis die woorde wat die geskiedenis verander: "I declare that, on the basis of the new Church Order, and the declaration of Consent, that the First General Synod of the Uniting Reformed Church in Southern Africa, is now in session!" Met hierdie woorde het die Verenigende Gereformeerde kerk tot stand gekom.
En so het die gebed van Jesus ‘n werklikheid geword in die stigting van die VGKSA: "Dat hulle een mag wees." Die stigting van die VGKSA was ‘n sigbare verwerping van apartheid wat deel was van die kerkorde van die NG Kerk in Suid Afrika.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'