GRAAFF-REINET NUUS - Dit was Desember en nou's dit Januarie, en dorps- en stadskindertjies gaan kuier by Oupas en Oumas op plase, of by Ooms en Tannies.
Op goed opgepaste plase is daar skilpaaie, meerkatte, grondeekhorings, krimpvarkies en dassies.
Daar is ook ander diertjies. Maar al hierdie diertjies hoort in die natuur.
Enige persoon wat al vir 'n week in die hospitaal was, sal weet wat hunkering na jou tuiste is. So hunker hierdie diere ook.
Hul hoort nie binnenshuis nie. Oulik is hulle, ja. Jy sal hul dalk selfs aan die lewe kan hou, maar dit bly onregverdig.
Moet hulle asseblief nie uit hul ekologiese omgewing verwyder nie. Moenie selfsugtig wees nie.
Mens kan die nadele vir mens en dier hier uiteensit, van vlooie, luise tot hondsdolheid en toiletgewoontes.
Water met chloor en boksmelk wat nie velddiervoeding is nie en vloerpolitoer, teëlsjampoe en vlieëgif wat gevaarlik is.
Maar die basiese reël bly dat velddiere in die veld moet bly, aanteel en gelukkig is.
En onthou, wanneer dit jou huishouding en winkelkos gewoond geraak het, pas dit nooit weer in die natuur aan nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’