GRAAFF-REINET NUUS - Die eertydse spogdorp wat, onder andere, in 2010 die Kwêla Dorp van die Jaar-kroon gedra het, en ook in 2017 as een van die 10 semifinaliste van hierdie kompetisie benoem is, het binne die bestek van enkele jare 'n aaklige transformasie ondergaan en in 'n vullishoop verander.
Inwoners het vroeër hierdie week spesifiek hul teleurstelling uitgespreek oor die haglike toestand van die piekniekterrein en russtop vir motoriste naby die brug op die R63 na Murraysburg.
Ricardo Smith, DA-raadslid vir wyk 2, het hierdie gebied onlangs ordentlik skoongemaak, maar dit is al weer met rommel besaai.
Die area tussen die Margery Parks-hospitaal in Santaville en die daghospitaal in Asherville lyk ook erger as ooit tevore ondanks die feit dat Joy Williams, DA-raadslid vir wyk 14, en 'n span CWP-werkers dit destyds ordentlik skoongemaak het.
Dit is maar net twee van die menige plekke in Graaff-Reinet wat in 'n see van rommel verdrink.
Dit is baie duidelik dat die plaaslike munisipaliteit geen behoorlike afval-bestuursplan in plek het nie. Die beperkte aantal stortbakke (skips) wat beskikbaar is vir gebruik deur die gemeenskap word byna nooit leeggemaak nie en is permanent tot oorlopens toe vol.
Die vullis wat wel deur die munisipaliteit verwyder word, word met grond gemeng en op verskeie plekke in die gemeenskap "opgeberg" in stede daarvan om dit na die plaaslike stortingsterrein te neem.
Hierdie stortingsterrein is kilometers ver buite die dorp en daarom ontoeganklik vir die oorgrote meerderheid van die gemeenskap. Alhoewel hierdie afgeleë stortingsterrein deur sekerheidswagte beman word, is die terrein ook nie veilig om te betree nie omdat daar te veel rondlopers uithang.
Die rondlopers het na bewering alreeds die dakplate van die sekerheidswagte se bemanningspos afgesteel en ook 'n splinternuwe Caterpillar-padskraper heeltemal uitgebrand.
Inwoners is dus genoodsaak om van die stortbakke gebruik te maak, maar wanneer dit vol raak, word vullis net eenvoudig op enige ander plek neergegooi sonder om twee keer te dink.
Die oorsaak van die probleem kan gevolglik nie net voor die munisipaliteit se deur gelê word nie - moedswillige rommelstrooiers dra ook grotendeels by tot die rommelkrisis - en daarom is dit allerbelangrik dat die gemeenskap ook hulle samewerking gee om die oorweldigende rommelprobleem hok te slaan.
Elke inwoner kán 'n bydrae lewer tot die poging om Graaff-Reinet tot sy eertydse glorie te herstel.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'