JANSENVILLE NUUS - Senior burgers sien elke jaar met groot vreugde uit na die viering van die liefde op 14 Februarie, en hier en daar het sommige groepe dit sommer reeds op 13 Februarie gevier.
By Huis Welverdiend in Jansenville vertel Leoné Mulder, die bestuurder van die tehuis, dat Valentynsdag altyd ’n hoogtepunt van die jaar is, en: “Op hierdie dag deel Huis Welverdiend eerder uit as om te ontvang.”
Huis Welverdiend ontvang regdeur die jaar soveel genade hier by die tehuis dat hulle met oop hande kan gee op Valentynsdag.
Hierdie jaar was die personeel by Kwazamukucinga-kliniek - wat nou ook die personeel van Brugstraat akkommodeer - aan die beurt.
Dié span is altyd bereid om te help met die inwoners se medikasie en ander mediese benodigdhede.
’n Vaardige inwoner, Wendy Pretorius, het baie spesiale kussings gemaak om uit te deel.
Dit was ’n interessante speletjie - elkeen het ’n dankie-sê-kaartjie met ’n nommer daarop getrek.
Die kussings was ook vooraf genommer. ’n Roomysbederf het die besoek op ’n soet noot afgesluit.
By die Marais Steyn-tehuis in Steynsburg het die personeel almal in rooi getooi opgedaag vir die dag.
Deidre Viljoen, ’n pragtige en vlytige jong boervrou uit die distrik, het die inwoners kom vertel van haar boerdery-aktiwiteite.
Die inwoners het die “uitkyk” na buite waardeer en lekker saam gekuier in bewondering vir Deidre se vindingrykheid.
Klaudia Viljoen het vir elke inwoner ’n Valentynspakkie opgemaak met ’n soethartjie-koekie en ’n kaartjie met ’n liefdesboodskap.
By die Elizabeth Jordaantehuis en Erica-sentrum in Cradock is daar op Saterdag 14 Februarie ’n stylvolle Valentynsdag gevier, met pragtig gedekte tafels onder wit en rooi ballonne.
Die inwoners het in hul spoggerigste rooi uitrustings opgedaag vir hierdie bederfgeleentheid, wat deurgaans in ’n goeie gees afgeloop het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’