STEYNSBURG NUUS - Huis Welverdiend op Jansenville is op Dinsdag 31 Maart geseën toe Sharon Outram die inwoners met ’n Paasprogram kom bederf het.
Volgens die tehuis se bestuurder, Leoné Mulder, is nostalgiese herinneringe opgeroep toe Outram (kitaarbegeleiding) en Fiona Hobson paasliedjies gesing het.
Die inwoners het dit ook baie geniet om saam te sing.
“Dit bly ’n onbeskryflike voorreg om mense te hê wat regtig omgee en hierdie omgee gaan nie in Huis Welverdiend ongesiens verby nie.
Alreeds 20 jaar gelede het Outram en die destydse Women’s Association (WA) van Klipplaat voedsel vir siel en liggaam kom bedien,” sê Mulder.
“Om nie eers te praat van die bederfies nie!”
Sedertdien het die WA ontbind, maar Outram, nou vergesel van haar “Bybelsusters”, neem hierdie liefdadigheidsplig baie ernstig op en kom die tehuis gereeld besoek.
Ds. William Bellingan Smith het ná Outram se boodskap die geleentheid op gepaste wyse afgerond met die bediening van die nagmaal.
“Oor hierdie groot Christelike feesdae verlang ons inwoners na hul geliefdes, en dit is dikwels buitestaanders se liefde, insig en meelewing wat ons inwoners deur hierdie dae dra en hulle innerlike vrede gee,” sê Mulder.
“Hierdie opregte omgee is goud werd en word meer waardeer as wat in woorde gesê kan word.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’