Video
GRAAFF-REINET NUUS - Inwoners van Graaff-Reinet het gisteroggend, 5 Junie met 'n skouspelagtige vertoring en die gedruis van water wakker geword.
Die Nqwebadam het uiteindelik, met vors, oor sy banke gestoot. Na die afgelope paar dae se swaar reën en sneeu in hoërliggende areas het dit Graaff-Reinetters vroegoggend na die dam laat stroom om die rare gesig te gewaar.
Die dam het op 21 April oorgeloop, maar net-net oor sy wal gestoot. Dit is 'n seën dat dit vir die tweede keer hierdie jaar gebeur. Die Nqwebadam word deur die Sondagsrivier en Gatsrivier gevoed en loop uit in die Laer Sondagsrivier, wat rondom die dorp vloei. Die dam het in 1974 verwoestende vloede veroorsaak toe dit oorgeloop het omdat die dam aan die bokant van die dorp lê. In 2008 het dit weer kortliks oorgeloop, maar geen skade is aangerig nie.
Drie jaar later, in 2011, het die water weer oor die damwalle gestoot toe die dam se vlak tot 116% kapasiteit gestyg het, die hoogste vlak sedert die vloede van 1974. Die dam het toe vir 10 weke aanhoudend oorgeloop as gevolg van weke se aanhoudende reën in die gebied.
In 2012 het die dam weer vir maande aaneen oorgeloop.
VERSKAFDE VIDEO: Die Nqwebadam het op 4 Junie tot in die oggendure van 5 Junie begin oorloop (Video: Gideon van der Mescht).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’