GRAAFF-REINET NUUS - Die personeel van Debonairs Pizza & Wimpy in Graaff-Reinet het onlangs tyd ingeruim in hulle besige werkskedule om twee plaaslike skooltjies te vernuwe en op te kikker.
Die personeel het Nomzamo Pre-Primary in Baarmanstraat in Umasizakhe met verfkwaste en groen hande getakel en vinnig was die speelrame en naamborde vrolik en splinternuut. Daarna is die weldoeners na Sunrise-dagsorg in Irisstraat in Koebergville waar die vars laag sonskyngeel verf die skooltjie behoorlik laat skitter het.
Die personeel en kinders van die skole is baie dankbaar vir die opknappingswerk wat beide skole se voorkoms verhelder het.
Debonairs Pizza & Wimpy in Graaff-Reinet se eienaar, Eduan Meyer, glo dat besighede in hul gemeenskappe betrokke moet wees en moet terugploeg. "Elke bietjie help," sê Meyer.
Die personeel van Nomzamo Preprimêr is agter, van links: Dalene de Klerk, Sarah Pieterse, skoolhoof Babalwa Holmes en Nowezile Matwa. Voor: Senior bestuurders Elzanne Bruiners en Portia Claassen saam met Patrick Sili - aldrie van Debonairs Pizza & Wimpy.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'