STEYNSBURG NUUS - Suid-Afrika se langasem-skeerder, Tienie du Plessis (38) van Steynsburg, en sy Nieu-Seelandse eweknie, Aidan Copp (39), het gister om 05:00, 22 April, begin skeer aan hul wêreldrekordpoging.
"Dié twee topfikse skeerders gaan vandag kyk hoeveel merinolammers hulle binne nege ure kan skeer.
Dit is 'n nuwe rekordafdeling wat nog nie vantevore aangedurf is nie," lui die nuutste inligting op Landbouweekblad se nuusskakel.
Die rekordpoging het op die plaas Teebuswaters naby Steynsburg plaasgevind, digby die Steynsburg landmerk, Koffiebus en Teebus.
"Tienie se mikpunt was om gister 600 lammers te skeer en Aidan het gehoop om 664 te skeer en daarmee ook 'n individuele rekord op te stel maar dit gaan waarskynlik nie moontlik wees nie."
Ysige weer en 'n baie nat, bewolkte omgewing belemmer wol se olievloei, wat die skeerproses bemoeilik.
"Tweedens is die lammers wat geskeer word, se vaggewig heelwat swaarder as die minimum vereiste vir 'n wêreldrekordpoging, wat ook die skeerdery verlangsaam," sê Landbouweekblad.
Kundiges wat die rekordpoging dopgehou het, meen 'n totaal van ongeveer 540 skape vir elke skeerder sal 'n uitstekende prestasie wees, gegewe die toestande.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’