GRAAFF-REINET NUUS - Studente van die “Safety in Society”-kursus van die EC Midlands TVET-kollege se Graaff-Reinet-kampus lewer jaarliks 30 uur se vrywillige diens as deel van hul praktiese opleiding.
Hierdie jaar het vyf van hulle gekies om hul dienswerk by Vuyani Safe Haven, Graaff-Reinet se kinderhuis, te doen - ’n keuse wat nie net hul lewens verryk het nie, maar ook dié van die kinders wat daar woon.
Onder die leiding van Hildegarde Brummer, bestuurder van Vuyani Safe Haven, het die studente hul werk met entoesiasme aangepak.
By die huis in Cradockstraat, waar Vuyani se jonger kinders van baba-ouderdom tot omtrent 14 jaar gehuisves word, het hulle elke dag ywerig opgedaag – gereed om te help waar hulle ook al nodig was.
Hul bydrae het praktiese take ingesluit soos wasgoed was, in die kombuis uithelp en werk in die tuin.
Maar dit was hul interaksie met die kinders wat die grootste indruk gemaak het.
Daar is speletjies gespeel – van touspring tot Ludo en selfs slangetjie-en-leertjies op selfone.
Die dogtertjies se hare is met sorg gevleg, en daar is bal gespeel met die seuns.
Elke dag is afgesluit met storievertel en vrae wat kinders leer om met aandag en begrip te luister.
Volgens die vyf studente het dit nie vir hulle net daaroor gegaan om hul voorgeskrewe ure te voltooi nie - hulle het self soveel geleer en beleef.
Hulle was diep geraak deur hul tyd by Vuyani en het selfs gevra hoe hulle in die toekoms betrokke kan bly by die kinders met wie hulle ’n hegte band gevorm het.
Hierdie groepie jong volwassenes het reg laat geskied aan die bekende sêding, “It takes a village to raise a child”.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’