HOFMEYR NUUS - Tuisversorging sal voortaan meer toeganklik wees met die verwelkoming van opleiers, Sr. Cathy Koeberg-Anderson en Audrey Tobias, by Hofmeyr Hugs of Hope.
Twaalf studente het reeds geregistreer vir die tuisversorgingskursus, en die eerste vyf het hul opleiding voltooi en is in betrekkings aangestel.
Sr. Cathy is semi-afgetree en woon in Steynsburg na 'n loopbaan van 50 jaar. Sy het 'n diploma in verpleegkunde, 'n addisionele diploma in ortopediese verpleegkunde, sowel as 'n diploma in gemeenskapsgesondheid. In 2014 het sy by die Marais Steyn-tehuis vir bejaardes aangesluit, waar sy steeds help.
Audrey Tobias, ook van Steynsburg, het 'n sertifikaat in tuisversorging, asook 'n spesiale sertifikaat in die sorg van Alzheimer-pasiënte.
Sy het by Huis Lettie Theron en die Keith Brooke Alzheimer-sorgsentrum haar opleiding ontvang en het 26 jaar praktiese ervaring in tuisversorging.
Opleiding vind op Hofmeyr plaas, en registrasies vir die kursus kan by Hofmeyr Hugs of Hope gemaak word. Opleiding is gratis, maar studente is vir hul eie verblyf en etes verantwoordelik. Elkeen moet ook voorsiening maak vir ten minste twee plaaslike pasiënte waar hulle hul praktiese ervaring kan opdoen.
Vyf persone ontvang per opleidingsessie teoretiese en praktiese opleiding, en na 'n skriftelike en praktiese eksamen, verwerf die suksesvolle kandidate diplomas in tuisversorging.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'