GRAAFF-REINET NUUS - Vanuit ses verskillende windrigtings het voertuie Saterdagoggend, 9 November, alle paaie na Schoombee aangedurf waar agt skouspelagtige tuine gewag het.
Besoekers van Graaff-Reinet, Middelburg, Noupoort, Venterstad, Cradock, Steynsburg, Hofmeyr en selfs van Gqeberha en Bloemfontein het saamgekuier en in die lushofvreugde gedeel.
Die gasvroue op die plase het reeds maande lank hulle pragtige tuine gereed gemaak vir die besondere tuintoer en gelukkig het die weer saamgespeel.
Terwyl daar noord van Hofmeyr en selfs ook in Steynsburg tot 31 mm reën geval het, het Saterdag as 'n goue sonskyndag aangebreek in die Schoombee-omgewing.
Besoekers kon tot 18:30 heerlik kuier, plantjies koop of bedel, foto's neem, en by talle besoekpunte is heerlike versnaperings aangebied.
Sommige tuine het tot 120 besoekers ontvang, ander tussen 70 en 90, en by Rabbit Hole, het 66 gaste 'n heerlike middagete geniet wat Adrienne Southey voorberei het met produkte uit haar kleurvolle, outydse, Engelse landskapstuin.
Alle besoekers was besonder beïndruk met die massiewe uitgebreide tuin op Doornberg, waar Rolene Bowker en haar werkers 'n oase in die Karoo geskep het - die voordeel van onbeperkte water en groen vingers!
Die gevestigde kleurvolle tuine op De Keur, waar oeroue bome in die tuine op die walle van die Brakrivier die agtergrond vorm, is 'n toonbeeld van Rosemary Jordaan, Elna Jordaan en
Delina Jordaan se kreatiewe tuin by Karoo River Rafting.
By Blaauwskop het Dada de Jager 'n kindervriendelike lushof geskep waar haar eie kleinkinders saam met feetjies en skoenlappers kan kuier.
Wendy van Lingen se Franse pragtuin op Temple Farm het besoekers beïndruk want daar was 'n nuwe verrassing om elke hoek.
Presisie perfeksie is hier die wagwoord, en alles vorm 'n treffende geheel.
Ria Jansen se jong kuiertuin op Helpmekaar is 'n nuutskepping, waar sy reeds 'n ongelooflike struktuur kon vestig.
Ria bewys kreatiwiteit by uitnemendheid en inkorporeer plante om die oog te trek.
Die besoekers het die tuinetoer as 'n ongelooflike avontuur beskryf.
Papawers en kosmos vorm 'n bont mengelmoes voor rose en magrietjies by The Rabbit Hole.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’