CRADOCK NUUS - Die Cradock-besigheidsforum het weer ‘n briljante haas uit die hoed gepluk, toe hulle op 28 Mei ‘n Musikale Trivia by The Palms in Cradock aangebied het.
Alle besighede in Cradock is ingekatrol en daar is ruim skenkings vir pryse ontvang. Besighede het ook tafels bespreek en al wat nodig was, was om in ‘n goeie gees en met ‘n selfoon vol data op te daag.
“Die besigheidsforum gaan van die standpunt af uit dat ons alle besighede wil intrek, ondersteun, bemark en ook vir hulle die kans gee om betrokke te raak by dierewelsyn in die geval,” sê Wilhelm Smit, voorsitter van die Cradock-besigheidsforum.
Jacques Arendt, bekende aanbieder van RSG en Wayne Cecil was vuur en vlam om die Trivia-aand aan te bied. 'n Bedrag van R10 200 is ingesamel vir die diereskuiling wat dan weer op hulle beurt by die verskeie besighede aankope gaan doen met die geld.
“Dit was ‘n uiters suksesvolle geleenthede, elke gas het omgegee vir ons diereskuiling, en almal het dit gate uit geniet. Hierdie Trivia-aand was ‘n wenner! Elke besigheid wat die skuiling op hulle harte dra, dra ook regdeur die jaar by,” sê Karin Human, bestuurder by die Cradock-diereskuiling.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’