HOFMEYR NUUS - Ongeag die talle stop-en-rypunte op die R390 tussen Cradock en Hofmeyr, het talle toeriste die afgelope vakansie weer Hofmeyr besoek - en sommer vir ’n dag of twee gekuier.
Die Victoria-boetiekhotel het weer die gewone wintersgaste verwelkom, wat baie jagters insluit, asook talle deurreisende toeriste wat ’n snoesige warm bed en ’n gekookte ete dringend nodig gehad het.
Hierdie wintersvakansie het nie sneeu gebring nie, maar dit was steeds lekker koud en selfs nat op sommige dae, al lê Hofmeyr in ‘n somerreënvalstreek.
Talle voete het ook oor die drumpel van die plaaslike koffiewinkel getrap, en vakansiegangers het voor die kaggel gekuier terwyl die ryp spierwit in die roostuin oorkant die straat blink.
Hofmeyr Hugs of Hope
Hofmeyr Hugs of Hope, die plaaslike instansie waar vaardigheidsontwikkeling, kleutersorg en werkskepping bevorder word, was ook besonder bevoorreg om besoekers van oraloor te ontvang.
Hester Botha van Swartwater en Christine Hauptfleisch van Mosselbaai het op Woensdag 16 Julie in Hofmeyr besoek afgelê en ’n lang draai by Hofmeyr Hugs of Hope gemaak, waar hulle al in die verlede besoek afgelê het.
Hierdie keer het hulle ruim donasies saamgebring, wat met groot vreugde deur die vrywilligergedrewe organisasie ontvang is vir verspreiding in die gemeenskap.
Twee susters, Monika Vermaak van Upington en Estelle Pike van Pretoria, het op Woensdag 23 Julie vir die dag van Cradock af Hofmeyr toe gekom en onder andere by Hugs opgedaag.
Vermaak kon talle wenke deel van projekte waar sy behulpsaam is - in Askham, ’n nedersetting in die Dawid Kruiper-munisipaliteit, asook in Kakamas, waar talle projekte deur vrywilligers bedryf word.
Vermaak het ook inligting gedeel rondom sublimasie drukwerk.
Pike is betrokke by Skuilkrans NG Gemeente se Tabita Projek, en is nie die eerste lid van dié projek wat Hofmeyr Hugs of Hope besoek nie.
Sy het talle wenke en ruim donasies saamgebring.
Hofmeyr ontvang graag besoekers verwelkom enige advies en planne van buite. ’n Oog wat van buite kyk, sien baie meer as die oog wat binne die rondomtalie vasgevang is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’