GRAAFF-REINET NUUS - Tiaan Fourie, 'n baie talentvolle perderuiter van Graaff-Reinet, het onlangs aan die 2023 International Invitation Saddle Seat Competition deelgeneem.
Tydens die kampioenskappe het Suid-Afrika en die Verenigde State van Amerika (VSA) se junior en senior saalperd ruiterkunsspanne teen mekaar meegeding.
Fourie se vertoning tydens die Nasionale Saalperd Ruiterkunsproewe verlede jaar in Parys het hom 'n plek in die Protea-span besorg.
Die 2023 International Invitation Saddle Seat Competition het op 13 en 14 Desember in die Afridome in Parys, Vrystaat, plaasgevind. Tiaan is die enigste seun wat in die Junior Protea Vyfgangspan opgeneem is (die ander spanlede is almal dogters) en het saam met die talentvolle groep ruiters van verskeie provinsies uitstekend gevaar.
Die VSA het twee spanne gestuur wat teen die senior- en juniorspanne van Suid-Afrika deelgeneem het. Tydens die kompetisie het ruiters perde geruil en nie op hul eie perde deelgeneem nie.
Die Junior Proteaspan, waarvan Tiaan deel was, het die Junior Vyfgang-afdeling teen die VSA gewen.
Drie van Suid-Afrika se spanne het goud gekry vir hulle vertoning.
SA se uitslae is as volg:
- Driegang juniorspan – silwer
- Vyfgang juniorspan - goud
- Driegang seniorspan - goud
- Vyfgang seniorspan - goud
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’