KAROO NUUS - Groot opgewondenheid het die 95ste verjaarsdag van Poppie Opperman, inwoner van Marais Steyn-tehuis in Steynsburg, en oudinwoner van Hofmeyr, voorafgegaan.
Nie alleen was dit een van die eerste geleenthede waar 'n gas van buite die tehuis 'n geleentheid binne die tehuis kon bywoon nie, maar dit was ook 'n besondere byeenkoms vir almal binne die tehuis.
'n Mede-inwoner vertel dat tannie Poppie vroeg die oggend al gereed was in afwagting op die feestelikheid. Haar dogter Linda, vanaf Hofmeyr, sou ook kom besoek aflê. Soos al die ander inwoners kon sy sedert die begin van die grendeltyd nie besoek ontvang nie. Sy was onbewus van die heerlike eetgoed wat die plaaslike tuisnywerheid, en ook die bestuurder van die tehuis voorberei het vir haar verjaarsdag.
Tannie Poppie het as eggenoot van die wyle Lieb Opperman, voormalige eienaar van Central Garages op Hofmeyr, en ook as burgemeesters-eggenote vir baie jare haar kant in die Hofmeyr-gemeenskap gebring. Die egpaar het vier kinders grootgemaak, en met haar vertrek na die Marais Steyn-tehuis op Steynsburg, woon haar dogter Linda nou in die gesin se woning in die hoofstraat van Hofmeyr. Linda is ook bekende kunstenaar van Hofmeyr, en skilder onder die naam Lin Opperman.
Ongelukkig kon tannie Poppie se ander kinders nie by hulle aansluit vir die geleentheid nie.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'