GRAAFF-REINET NUUS - The Coldstream Restaurant het op 15 Junie ’n onvergeetlike Sondag saam met RAAF geniet toe dié bekende groep daar opgetree het, en sowat 70 inwoners deur die hekke gestroom het vir ’n heerlike ete, puik sang en musiek.
“The Coldstream Restaurant het behoorlik lewendig geword met die ongelooflike klanke van RAAF - en dit was ’n fees om na die talentvolle duo se uitsonderlike vertoning te luister.
Hulle het behoorlik die vars Karoo-lug met sielvolle melodieë en energie gevul,” vertel Hestie van der Mescht, die restaurant se eienaar.
Die sangeres van die groep, Esté, is ’n Graaff-Reinet-boorling.
The Coldstream het ook gesorg dat almal se magies vol bly, en die gewildste geregte was gebakte vis en skyfies of hoenderschnitzels.
“Paternoster” was die sangnommer wat die gewildste onder die luisteraars was.
“Die geleentheid was soos ’n familiereunie, want hier by Coldstream werk ons al van 2013 af saam, en die hele Graaff-Reinet is mos eintlik maar almal familie.
Dis juis daarom dat RAAF dadelik soos familie kon inskakel en saamkuier,” vertel Van der Mescht.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’