CRADOCK NUUS - Swak dienslewering van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit het Sondagmiddag, 14 Mei, daartoe aanleiding gegee dat betogers die N10- en R61-roete, digby Cradock versper het.
Inwoners van die omgewing was ontevrede oor die swak onderhoud van strate en gebrek aan elektrisiteit.
Teen 16:00 het noodoproepe na die Cradock Crime Intelligence se WhatsApp-groep ingestroom wat daartoe gelei het dat betogers, meestal kinders en jeugdiges, oral langs die twee roetes in georganiseerde groepe saamgewerk het, en besig was om houtstompe, dromme, bande en klippe aan te dra om die pad te versper.
Teen 17:30 is die R61 vanaf Tarkastad na Cradock vir verkeer gesluit.
Lamppale is afgesaag en dwars oor die roetes vanaf Gqeberha na Cradock neergesit en toe is alles aan die brand gesteek. Cradock-ambulansdienste was ook op die toneel vir enige ongevalle.
Die situasie is onder beheer gebring toe Cradock se verkeersdepartement, polisie en sekuriteitsfirmas die situasie ontlont het.
Teen 19:15 Sondagaand was die roetes weer oop vir verkeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’