KAROO NUUS - Op Woensdag 9 Oktober, het Elizabeth Gadene (61) van Hofmeyr se wêreld vir ewig verander.
Hofmeyr Hugs of Hope, die vaardigheids-ontwikkelingsinstansie in Hofmeyr, het te hore gekom van dié vaardige naaldwerkster in Eluxolweni en Hugs se verteenwoordiger, Gqobane Makhase, het die gesin gaan opsoek, waar hy met Gadene se ouer suster, Regina Zwedi (69) 'n onderhoud kon voer.
"Omdat Elizabeth doof gebore is, kon sy nooit skool toe gaan in Hofmeyr nie," vertel Makhase, "maar haar ouma het haar geleer naaldwerk doen en sy maak die hele familie se klere reg.
Sy kan ook met die hand borduur en maak ook vir die kinders klere van ou klere, maar sy sukkel om te praat."
Zwedi het daarna by Hugs besoek afgelê en onderneem om haar suster te bring om te sien wat by Hugs gebeur. Zwedi het ook self lusgeraak om kunsnaaldwerkklasse by Hugs te leer.
Die twee susters het Woensdag by Hugs opgedaag en ongekende vreugde het geheers toe Hugs 'n elektroniese naaimasjien, 'n skenking van Ikhala Trust, aan Elizabeth kon oorhandig.
Tussen die trane deur het sy steeds nie verstaan dat dié masjien nou haar eiendom is nie en dat sy ses weke gratis opleiding by Hugs sal ontvang. Nadat Zwedi mooi moes verduidelik het Gadene haar arms om haar nuwe masjien gevou.
"Jy is ook nou my suster," het sy aan die masjien beduie, "en ons gaan ook saam stap," het Zwedi haar suster se handgebare verwoord.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’