KAROO NUUS - Die glase is weggepak en die stoepe weer stil. Die tiende Stoep Tasting Wine Weekend was weereens 'n reusesukses met tussen 8 000 en 10 000 besoekers wat die strate van Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda laat wemel het.
Met 'n geskatte R70 miljoen finansiële inspuiting tot die plaaslike ekonomie, wat wyn verkope uitsluit, is die bydra wat hierdie geleentheid tot plaaslike besighede en verskaffers lewer van groot waarde.
Die gees waarin die opbou tot en met die naweek self geskied is 'n ware getuienis van hoe 'n gemeenskap kan saamstaan en 'n wêreldklas geleentheid aanbied.
Organiseerders, Gordon en Rose Wright, is verheug oor die positiewe terugvoering van wynplase, besoekers en plaaslike inwoners.
Alle kaartjies was uitverkoop en is daar reeds 'n besoeker wat 'n paar kaartjies vir volgende jaar se geleentheid wou koop. Soos Graaff-Reinet Advertiser vroeër berig het, het die organiseerders ses maande gelede reeds begin met die beplanning vir 2024 wat sal sorg vir 'n nog groter verskeidenheid en natuurlik 'n ekstra naweek van wyn en plesier.
"Daar sal 'n goeie kombinasie van nuwe en gevestigde wynmakers oor die twee naweke op die stoepe wees," verduidelik die Wright's.
"Daar sal byvoorbeeld verskillende Rupert-wynplase, tydens albei naweke, by die Drosdy Hotel beskikbaar wees," stel Rose die besoekers gerus.
Terugvoering deur die bank verwys na die ongelooflike kos en wyn wat oral op die stoepe beskikbaar was en maak van die afgelope naweek ook 'n gastronomiese sukses.
Engelse skrywer, Robert Leach, het gesê dat in Italië word werk en lewe as sekondêre bestanddele gevoeg tot kos en wyn, maar hy was duidelik nog nie in die Karoo om die ware omvang te ervaar nie. Hier seëvier kos en wyn tot die hoofbestanddele van die Karoo se gasvryheid.
Die mikpunt is om ongeveer 120 wynmakers ten skou te stel oor die twee naweke tussen Graaff-Reinet en Nieu Bethesda.
Dit is belangrik om nie die atmosfeer in te boet nie en is die fokus om die verhouding tussen wynplase en besoekers gebalanseer te hou om dit vir almal so billik en aangenaam moontlik te maak.
Die Stoep Tasting Wine Weekend het homself al keer op keer bewys as 'n geleentheid soos geen ander en met die versnit van ouer en jonger wynplase beloof die eindresultaat om 'n wen-wen kombinasie te wees.
Die organiseerders getuig, "Hierdie is 'n ongelooflike geleentheid om te organiseer. Almal is so gewillig om te help en doen soveel moeite met hul stoepe; dit is wat hul aanbied dat mens soms net kan stilstaan in waardering. Ons kan nie genoeg dankie sê vir die oorweldigende en volgehoue ondersteuning wat ons van alle oorde ontvang het nie. Die idee is dat inwoners eienaarskap van die geleentheid neem om dienste en produkte te lewer wat die besoekers sal aanmoedig om weer te kom en geld hier te spandeer om sodoende die fondse wat genereer word, hier in die Karoo te hou," sê Gordon.
Gordon en Rose Wright, stigters en organiseerders van die Stoep Tasting Wine Weekend.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’