MOLTENO NUUS - Molteno inwoners, Roddy Meyer en Tracy McKenna van die Stormberg-herstelsentrum vir troeteldiere, is opgewonde dat die sentrum onlangs amptelik as 'n NPO geregistreer is. Hulle glo enige dorp sal baat uit so 'n inisiatief.
"Ek en my lewensmaat Tracy is diereliefhebbers, en ons sien al ’n geruime tyd om na rondloperhonde. Op die oomblik besoek 40 honde ons perseel op ‘n daaglikse basis vir kos," vertel Meyer.
Stormberg-herstelsentrum poog om soveel moontlik rondloperdiere uit die strate van Molteno en omliggende gemeenskappe te hou, en om te keer dat hulle op nabygeleë plase ronddwaal, waar hulle geskiet en in slagysters gevang kan word, as hulle skape vang. Hulle help ook siek, hawelose en beseerde diere en rig voerstasies op.
"Ons hoop om in samewerking met staatsveeartsenydienste te werk, wat reeds hulle volle samewerking beloof het. Hulle sal ons dorp meer gereeld besoek en sterilisasieveldtogte van stapel stuur om ongewenste teling te voorkom."
Stormberg-herstelsentrum wil ook die gemeenskap opvoed oor diereversorging. Hulle beplan verskeie programme asook skoolbesoeke. "Ons wil graag hê dat die hele gemeenskap betrokke raak."
Die publiek word gevra om katkorrels, hondekos en oorskiet, vleis- en suiwelprodukte aan die sentrum te skenk. Meyer stel voor mense sit 'n leë inkopiesak in die yskas, en gooi daagliks daarin al die oorskiet en vries dit dan. Sodra genoeg kos so versamel is, kan dit aan die sentrum geskenk word.
Meyer sê enige skenking soos ontwurmingstablette, bosluisbehandelings en pro-biotika sal ook waardeer word.
"Ons doen 'n beroep op die gemeenskappe van Molteno en omliggende gebiede om aktief betrokke te raak by die Stormberg-herstelsentrum. Die diere het julle nodig!"
'Ons bring jou die nuutste Molteno, Karoo nuus'