STREEKNUUS - Na afloop van twee feestelike Stoep Tasting naweke, was dit besonder stil in Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda se strate Maandagoggend.
Die vlaggies nog nie oral afgehaal nie en inwoners het gesê hulle sal nog daarby kom, "maar die vlaggies lyk dan nog heel feestelik hier in die koue voorwinter!"
"Dit was 'n vrolike gedruis waarin ons dorp gehul was, en nêrens was enigeen sigbaar met 'n suur of bekommerde gesig nie, en die gelag en gekuier wat ons nog tot laat saans gehoor het, was geensins irriterend nie, dit was vrolik," het 'n bejaarde inwoner vertel.
Vanuit alle oorde het toeriste na Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda gereis, en stalletjiehouers sê dat hulle 'n goeie inkomste gehad het en gawe mense ontmoet het.
Boonop is hul netwerke gebou en daar nuwe visitekaartjies in hul geldkassies, asook baie nuwe nommers op hul WhatsApp kontaktelyste.
Dit is waaroor stalletjiebemarking gaan, want wie nie van jou weet nie, gaan jou nie onthou of in die toekoms ondersteun nie.
'n Mens kan immers nie aktiewe bemarking doen as jy heeljaar op 'n stoep in die Karoo sit en wag nie.
Die energie en moeite van die inwoners was ongelooflik.
Beide dorpe het besoekers met hul eie sjarme bekoor en besoekers wou op twee plekke gelyk wees!
Graaff-Reinet Advertiser het met 'n groep toeriste wat al die pad vanaf Philippolis gereis het, gesels.
Cornel Smuts, wat nou 'n jaar in Philippolis woon na haar universiteitstudies, het die volgende vertel: "As 'n inkommer van Stellenbosch af, was hierdie naweek vir my 'n ongelooflike ervaring, en ek kom van 'n wyn-area!
Ons groep het so drie maande terug besluit om die rit na Graaff-Reinet saam aan te pak.
Ons was in die gelukkige posisie om by 'n vriendin wat onlangs van Philippolis na Graaff-Reinet verhuis het, te kon oornag, te kuier en sommer heelnaweek 'te fees'.
Ons was aangenaam verras deur die feesatmosfeer wat deurgaans oor Graaff-Reinet gehang het; ons sou so graag iets soortgelyks in Philippolis wou hou.
As voetgangers was dit nogal moeilik om by die afgeleë stalletjies uit te kom. Hou Philippolis dop!"
Karoo Wine Club het uiters positiewe terugvoer gekry.
"Die proeërs, die produsente, die gashere, die besighede; almal was verheug oor die naweke," sê die klub.
"Kaartjieverkope het verlede jaar se syfers oorskry - Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda is nog besig om te tel.
Die weer was elke dag perfek.
Die kaartjiehouers was in goeie gees, en vele groepe het aangetrek in 'Stoep Tasting uniforms' in 'n gees van pret!
Elke sintuig was gekoester - van braai- of kosreuke tot musiek en skaterlag!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’