NIEU-BETHESDA NUUS - Nieu-Bethesda het ook deurgedring na Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie.
Volgens Althea Jezersky, van Nieu-Bethesda se toerismekommitee, is hulle ongelooflik opgewonde om ook aan die kompetisie te kan deelneem.
"Hoewel Graaff-Reinet vir ons groot kompetisie is, voel ons ons staan 'n goeie kans om te wen."
Jezersky sê Nieu-Bethesda is 'n unieke Karoo-dorp wat deur en deur op toerisme gefokus is.
"Hier is nie winkels of fabrieke wat ons mense aan die gang hou nie. Toerisme is hoe die dorp sy geld maak.
"Dit is 'n klein dorpie met stofstrate, maar so baie geskiedenis en 'n ongelooflike atmosfeer. Die mense wat hier woon is wat van ons dorp 'n sukses maak. Ons het 'n klein gemeenskappie, maar dit is baie uiteenlopend. Hier woon dokters, proffesore en 'n klomp kunstenaars. Dit is 'n dorp waarin almal gemaklik voel," vertel sy.
Volgens haar is een van die bekendste bakens natuurlik die Uilhuis. Die Uilhuis was eens die tuiste van Helen Martins, maar is later, na haar afsterwe, as tuismuseum omskep. Nieu-Bethesda is ook die enigste dorp ter wêreld wat 'n visfossiel-museum het.
Sarina Engelbrecht, van Compassberg Camino, sê Nieu-Bethesda is ook bekend vir sy bloukransvoëls.
"Dit is ons nasionale voël, en daar is geweldig baie op die plase in die omgewing. Ons NG-kerk is 140 jaar oud. Ons kry ook water uit 'n fontein wat in die totale bestaan van die dorp nog nooit opgedroog het nie. Rondom ons is die ikoniese Kompasberge met die twee hoogste pieke in die land. Dit is als goed wat ons dorp uniek maak."
Volgens Jezersky sal dit vir die dorp 'n reuseaanwins wees as hulle as Dorp van die Jaar aangewys kan word.
Die NG-kerk op Nieu-Bethesda.
"Ons was een van die laaste dorpe in die land wat elektrisiteit gekry het en mens kry nog steeds half 'n 1900's gevoel as jy in Nieu-Bethesda kuier.
"Baie van dit wat in die dorp gedoen word kom uit mense se eie sakke. Sou ons die kompetisie wen, wil ons graag die geld gebruik, natuurlik om die dorp te bemark, maar ook te verbeter. Dalk iets inrig vir die kinders, soos 'n parkie of so iets. Dit kan vir ons as gemeenskap 'n geweldige hupstoot wees."
Volgens haar is die bemarking van die dorp van kardinale belang.
"Hoe meer toeriste hier kom, hoe beter is dit vir ons dorp, want dit bring geld wat ons gesinne broodnodig het."
Stem
Inwoners van Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda het nog net tot Vrydag om vir hul dorpe as Dorp van die Jaar te stem.
SMS die woord Graaff-Reinet/Nieu-Bethesda na 33157. SMS'e kos R1,50.
Die dorp met die meeste stemme word as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys en wen 'n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal 'n 45 sekonde advertensie oor die dorp maak wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word.
Daar sal ook 'n groot Kia Dorp van die Jaar-makietie in die wendorp gehou word met musiek, kos en hope pret vir die inwoners.
Die bekende Uilhuis.
Foto's: Sarina Engelbrecht
'Ons bring jou die nuutste Nieu-Bethesda, Karoo nuus'