KAROO NUUS - Alhoewel die winter hierdie jaar effe later in Graaff-Reinet en omgewing begin het, het 'n ysige Karookoue die afgelope naweek op dié wêreld toegeslaan.
Vanuit alle windrigtings het inligting en foto's van ys, sneeu, kapok en stormsterk winde Graaff-Reinet Advertiser bereik.
Ysige koue het reeds Vrydagoggend, 5 Julie, tussen Cradock en Graaff-Reinet op plase voorgekom, waar Johann Weitz op Heemstede, vroegoggend -3° gemeet het en die hele omgewing in 'n wonderwêreld van ys verander was.
Stormsterk winde het Saterdag en Sondag, 6 en 7 Julie, sneeuwolke oor die Sneeuberge, Grootberg, Lootsberg, Bamboes- en Kamdeboo-berge laat inrol en teen Maandagoggend is die einde van die skoolvakansie met sneeutonele begroet.
Passe gesluit, temperature daal Met Lootsbergpas tussen Graaff-Reinet en Middelburg, die Wapadsbergpas tussen Graaff-Reinet en Cradock, die Winterhoekpas tussen Noupoort en Colesberg, die Groot- en Kleindoornhoekpasse tussen Hofmeyr en Molteno en Carltonhoogte buite Middelburg gesluit vir verkeer, het vakansiegangers oral gestop om kinders in die sneeu te laat speel totdat die roetes weer oopgestel is.
Sommige roetes was nog vir 'n wyle seepglad, nadat die nat sneeulaag geys het. Talle voertuie, ook groot trokke, het gegly en verkeer tot stilstand gebring.
Maandag het dagtemperature gewissel tussen 1° noordoos van Hofmeyr, 3° in Cradock en 5° in Graaff-Reinet. Sondagnag is 'n vriesende -7° in die Kleindoornhoekpas gemeet.
Teen Dinsdag 9 Julie het die sneeu gesmelt en temperature het effens gestyg, maar hewige stormwinde was nog aan die orde van die dag, met gepaardgaande windskade aan selfoon- en netwerktorings in Cradock en Hofmeyr asook skade aan kragpale en kragtoevoerstelsels in Cradock en Hofmeyr.
Volgens boere in die Hofmeyr-distrik dui voortydige Augustuswinde op 'n vroeër reënseisoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’