KAROO NUUS - "Ek was vir 25 dae by 'n tophospitaal gehospitaliseer," vertel Nico Gouws van Humansdorp, wat vermoedelik op 24 Mei deur 'n vioolspinnekop gebyt is.
"Ek was uit om 'n lyndraad te inspekteer en dié spinnekop moes tussen my been en my broek opgeklouter het. Ek was nie bewus van enige byt nie. Ek het nog heeldag gewerk. Ek en my vrou het die aand gaan uiteet, maar ek kon nie kos inneem nie. Na 21:00 het ek gaan stort en daarna het my nagmerrie begin, want ek het kouekoors ontwikkel.
"Saterdagoggend was my sig aangetas, en ek was heeldag slaperig, maar het teen die aand 'n erge koors ontwikkel. Eers teen Sondagoggend was daar 'n merkie sigbaar op my been. Toe het ek eers besef dat al die simptome heel moontlik is as gevolg van die spinnekopbyt," sê hy.
"Maandagoggend het my simptome voortgeduur en die bytplek het 'n geel blaas begin vorm. Mettertyd het goudgeel blase oral op my been verskyn. My dokter het my onmiddellik op binne-aarse antibiotika gesit en ek is gehospitaliseer. Ek het erge pyn verduur. Teen Dinsdag het ek besef dat ek my been kan verloor, want toe verkleur my been na geelgroen. Na 10 dae het die etter gevulde blase wit begin raak en daarna het my been se oppervlak mettertyd soos droë biltong begin lyk, en hierdie stukke ‘biltong’ is in die hospitaal verwyder," sê Gouws.
Gouws glo dit is 'n absolute wonderwerk dat hy sy been behou het.
"Vir 20 dae het ek gevrees dat ek my been sal verloor, en ek is deur hewige pyn en ongerief; slaap was bykans onmoontlik," sê hy.
Vioolspinnekop
Die vioolspinnekop (Loxosceles spp.) is 'n sitotoksiese spinnekop. Die byt van die spinnekop is aanvanklik pynloos en na 'n uur begin die bytplekkie pyn. Wyfies is kleiner, en hul gif is baie meer toksies, tydens die vervel-seisoen is die gif ook baie meer gekonsentreerd.
Die volwasse bruin vioolspinnekoppie het 'n donkerbruin 'viool'-vorm op die kop (karapaks) en is drie tot vier sentimeter in deursnit. Die liggaamsbou van die spinnekop herinner aan die vadertjie-langbeen spinnekop, hoewel die bene effe korter is. Waar die vadertjie-langbeen heel rustig teen 'n muur sal sit of teen 'n boomstam in die son, waar dit insekte kan vang, staan die vioolspinnekop as 'n wegkruiper bekend. Hierdie spinnekop word gevind in gleufies tussen vloerplanke, agter vloerlyste, tussen los klippies, onder rotse, in rotsgleuwe en in bome skuil hul graag onder basse en blare. Hul is dus moeilik sigbaar, maar hoogs aggressief.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’