GRAAFF-REINET NUUS - Die Edenhof Dienssentrum in Graaff-Reinet beoog om eersdaags 'n senior burger kermis te hou.
Die geleentheid sal op Woensdagoggend, 1 Mei, op dié tehuis se perseel gehou word.
Hoe gaan dit werk?
Enige individue wat 60-jaar en ouer is kan aansoek doen om 'n stalletjie te bedryf tydens dié kermis.
Senior burgers kan ook as 'n groep inskryf.
Aansoekvorms hiervoor is beskikbaar by die tehuis se kantoor tussen 09:00 en 12:30 daagliks - die sluitingsdatum vir aansoeke is 15 Maart.
Ná al die aansoeke ontvang is, sal die stalletjies geadverteer word, en die publiek uitgenooi word na dié spesiale kermis.
"Ons vertrou die inwoners van Graaff-Reinet sal die stalletjiehouers goed ondersteun," meen Martie Bekker, Edenhof Dienssentrum se bestuurder.
"Dit is voorwaar 'n eerste van sy soort in Graaff-Reinet en ons hoop die senior burgers in die gemeenskap maak van die geleentheid gebruik om hul eie stalletjie te beman by die kuieroggend."
Enige navrae in dié verband kan gerig word aan Bekker by 083 232 3657.