KAROO NUUS - Die Oos-Kaap se gunsteling familiefees, die SPAR Kirkwood Wildsfees, is einde Junie weer terug met 24 nasionaal-gewilde sterre op die verhoog, meer as 300 uitgesoekte stalletjies, ‘n fees van heeldag vermaak en hope aksie vir die hele gesin.
Die fees word van Vrydag 24 Junie tot Sondag 26 Junie aangebied.
Jenni Honsbein, feesdirekteur, sê hulle kry reeds uitstekende terugvoer.
“Gereelde feesgangers het ons klaar laat weet hulle is superopgewonde om hulself weer in die Karoolug te kan geniet.”
Alan Stapleton, bestuurder borgskappe en ontspanningsgeleenthede van SPAR Oos-Kaap is verheug oor die terugkeer van die Wildsfees.
“Na twee lang isolasiejare is ons weer baie opgewonde om die fees te kan ondersteun. Ons verwelkom alle gesinne terug by hierdie fees wat gesinsvermaak en samesyn vier. Om terug te gee aan plaaslike gemeenskappe is een van ons kern doelwitte. Deur ons vennootskap met die Wildsfees, ondersteun ons die Kirkwood-gemeenskap en dit op sy beurt is weer in ooreenstemming met baie van die waardes wat deur SPAR gekoester word."
Honsbein sê die Wildsfees is vir hulle die toonbeeld van waardegedrewe ondernemerskap, gesinssamesyn, passie, pret, plesier en ‘n grootse plaaslike feesaanbod.
Vooruitbespreekte kaartjies is die beste ooit in die fees se geskiedenis. Tog sal daar steeds kaartjies by die toegangshekke te koop wees.
Program
Jennifer Zamudio open Vrydag 24 Junie die vermaaklikheidsprogram op die hoofverhoog terwyl Juanita du Plessis en familie - Franja and Ruan – die fees op ‘n hoë noot op Sondagmiddag sal afsluit.
Die plaaslike sensasie Early B is die hoofkunstenaar Saterdagaand met die sterre Lianie May, Kurt Darren, Appel, Dr Victor & the Rasta Rebels en Van Pletzen wat die verhoog met hom deel.
Die Oos-Kaapse klopse GQ Entertainers van die Baai, sal Saterdag weer Kaapstadse karnavalklanke na die verhoog bring voor Desmond Wells sy buiging op die verhoog maak.
Vir die kinders is daar die spesiale verhoogproduksie “Dinosourusse kan nie lees nie” deur Ilne Fourie en aangebied deur die ATKV.
Die ATKV bied ook die komedie “The Roadtrip” aan wat die landwye reis volg van twee mans wat hul jeugjare weer probeer vasvang.
Daar is ook n spesiale karnaval-area waar die jong feesgangers hulself tussen narre, gesigverf en die balspel-poel kan geniet.
Voorts kan jonk en oud ook by die stalletjie van die Suid-Afrikaanse Astronomie Sterrewag meer leer van die kosmos en by die Iziko mobile museum weer alles hoor oor verlore en vergete wêrelde.
By die Bos Bistro is dit weer pure Mexiko met sombrero en al vir besoekers wat lus is vir ‘n Mexiko-fees van tequila en ander skemerkelkies.
Natuurlik is daar ook soesji, oesters, charcuterie borde (vleis- en kaas partytjiehappies) biltong, koedoe burgers, alles aangebied in ‘n tradisionele feesgees.
Omgewingsbewaring is ook sterk in die kollig met uitstallings deur SANParke en die Oos-Kaapse parke en toerisme agentskap, ‘n Noord-Kaapse byeboer en vele meer.
Bykomend tot dit alles is die fees weer die gasheer van die Oos-Kaap se grootste motor-, landbou- en buiteluglewe-uitstallings. Kyk ook maar uit vir die boerboel-vertoning.
Die immergewilde Kirkwood Wildsfees Wildsveiling 2022 word op Vrydag 24 Junie by die Mayogi Bomas gehou. Dit begin om 12:00. Kopers kan in persoon by die Mayogi Bomas of aanlyn deur die SwiftVee bod platform.
Covid-19-protokol
"Besoekers hoef nie ‘n Covid-19 inenting sertifikaat of ‘n negatiewe PCR toets saam te bring nie, het die gesondheid- en veiligheidskonsultant," Phrosné Phillips, gesê.
“Die Wildsfees op sigself sal aan al die regering se Covid-19 protokol, soos bepaal deur die huidige regulasies, voldoen. Ons het die terrein in ‘n aantal kleiner areas, elk met sy eie toegangsbeheer, verdeel “ het Phrosné bygevoeg.
Kaartjies is beskikbaar teen R200 per volwassene per dag en R100 vir skoliere.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'