KAROO NUUS - In sy gedig, Die Vrou, beskryf AG Visser 'n vrou as: "die sout van die aarde, die suurdeeg, beskou op die keper; al hoër rys sy in waarde: sy's beide die sout en ... die peper!"
Om te oorleef in die Groot Karoo, moet 'n vrou noodwendig sout én peper kan wees. Maar dan is daar vroue soos Umelda van Rensburg, van Aberdeen, wat nie net oorleef nie; hulle lewensloop is ook Visser se suurdeeg wat al hoër rys in waarde en gemeenskapsbydrae.
Umelda is gebore en 52 jaar getoë in die Aberdeen-distrik. Sy en haar man, Derick, het 'n huis op die dorp, waar hulle gewoonlik gedurende die week tyd spandeer en van waar sy ook 'n klein akkommodasiebesigheid, Die Wynberg Werf, bedryf. Maar sy is ook eienaar van 'n algemene handelaarswinkel, Superstore, op die dorp; werk voltyds by die plaaslike speurtak van SAPS; en op haar plaas, Wynberg, buite die dorp, bedryf sy en Derick nie net 'n boerdery nie, maar ook 'n immergroeiende geleentheidsbesigheid met unieke fasiliteite en akkommodasie.
Umelda is mens, vrou, kind van 'n ma, ma van 'n kind, Emmelize (9), gade en familielid – alles-in-een en inderdaad soos die digter beskryf.
Wat is die geheim om so 'n besige lewe daagliks vol te hou?
"Ritme. Aan die begin was dit moeilik, maar 'n mens groei in jou eie lewensritme in. Word net elke oggend wakker en onthou jy lewe nog; jy haal asem. Die ritme sal volg," antwoord Umelda.
Die begin
Umelda het grootgeword op 'n plaas en onthou nog die verskriklike droogte gedurende die 90's: "Klaar met skool, moes ek gaan werk soek, want geld vir gaan leer was daar eenvoudig nie." Plaaslik was nie werksgeleenthede nie en sy is vol hoop Kaap toe. Ná vele vrugtelose werksonderhoude en nog meer aansoeke, het sy maar teruggekeer na Aberdeen. "Skaars terug, toe kry ek werk as administratiewe beampte by die speurtak, kan jy glo!" Amper 30 jaar later is Umelda steeds voltyds in diens van SAPS by die speurtak. "Ek is al soos 'n meubelstuk in die kantoor, maar ek sal nooit vergeet waar ek begin het nie."
Sonder die nodige kapitaal en met 'n bankbestuurder wat net kop heen en weer geskud het, het hulle per afbetalingsooreenkoms toe 'n ander, kleiner winkeltjie gekoop. In 2012 het Umelda vir Ignes uitgekoop. Superstore is steeds Umelda se passie en trots en sy bly nou betrokke by die winkel met sy personeel van vyf.
Rus vir die siel
Vra haar waar is die plek waar sy skoene uitskop, hare losmaak en diep asemhaal en sy antwoord onmiddellik: "My huisie by die see is nie by die see nie; dis op die plaas, Wynberg." Toe Umelda eienaar van Wynberg geword het, was dit net die grond; geen huis en geen geriewe nie. Vandag spog Wynberg met akkommodasie vir groter groepe en fasiliteite.
Haar dryfveer
"Wie gaan vir my sorg as ek dit nie doen nie? Ek is volledig geskape; dit is my plig en eer om selfstandig selfversorgend te wees. Ek moet so seker moontlik maak dat ek nie 'n las op ander is nie." Soos wilde suurdeeg spontaan groei uit net meel en water, het Umelda gegroei van plaaskind wat nie werk in die stad kon kry nie, na 'n welbekende – en gewaardeerde – seder in Aberdeen. "Hou net aan. Moenie ophou nie. Wees soos skillie: gee net die volgende tree, al gaan dit hoe stadig. Soek, vind en volg jou passie, maar hou balans."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’