OOS-KAAP NUUS - Solidariteit Helpende Hand het in onlangse navorsing bevind dat gemeenskappe gereed en bereid is om te help, maar dat daar ’n ernstige vraag na effektiewe leierskap is om projekte te dryf.
Philip Bruwer, mediaskakelbeampte van dié instansie, het op 27 Februarie die uitslae van ’n publieke peiling bekend gemaak.
Hy het aangedui dat, terwyl gemeenskappe toenemend onder druk verkeer, hierdie peiling daarop wys dat die meeste mense bereid is om te help, maar dat baie steeds voel dit is “iemand anders se verantwoordelikheid”.
Die aanlyn peiling is vir ’n week in Februarie op sosiale media versprei om beter te verstaan hoe mense diensbaarheid beleef en uitleef.
Die bevindings wys dat baie mense reeds op een of ander manier in hul gemeenskappe betrokke is.
Ander wil graag help, maar is onseker hoe om te begin. Slegs ’n paar dui aan dat hulle nie betrokke is nie.
Onwilligheid is nie die grootste hindernis nie, maar die gevoel dat iemand anders eerste moet optree.
Onsekerheid is ook genoem, met emosionele uitputting en tydsdruk as verdere struikelblokke.
Diensbaarheid is waardevol
Lize van Zyl, maatskaplike bestuurder by Solidariteit Helpende Hand, sê die data wys dat diensbaarheid steeds waardevol in gemeenskappe is.
“Die oorgrote meerderheid respondente stem saam dat dit mense se waardigheid herstel as hulle die geleentheid kry om te help.
Dit beteken die wil om te help is daar. Wat ontbreek, is dikwels duidelike roetes tot aksie,” sê sy.
Respondente sien verantwoordelikheid vir gemeenskappe se welstand as ’n gesamentlike taak; dit rus dus nie uitsluitlik by die staat of by professionele persone nie.
Maatskaplike werkers word erken as beskermers van kwesbares en as bouers van volhoubare verandering wat saam met gemeenskappe werk.
Maatskaplikewerkersmaand
Solidariteit Helpende Hand stuur in Maart sy veldtog, “Diensbaarheid begin by die wil om te help”, van stapel.
Maart is Maatskaplikewerkersmaand, en op 17 Maart word Wêreldmaatskaplikewerkersdag gevier.
“Hierdie maand herinner ons daaraan dat maatskaplike werkers op die voorpunt van gemeenskapsbou staan.
Ons wil hul rol vier, en ook die breër gemeenskap aktiveer om saam verantwoordelikheid te neem,” sê Van Zyl.
Met dié veldtog wil Solidariteit Helpende Hand gemeenskappe beweeg van ’n ingesteldheid van “iemand moet my help” na “kom ons bou saam”.
“Wanneer individue, professionele persone en vrywilligers saam verantwoordelikheid neem, word gemeenskapsbou ’n gedeelde beweging.
Die bereidwilligheid is daar. Ons moet mense help om dit in aksie te omskep,” sê Van Zyl.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’