GRAAFF-REINET NUUS - Daar is 'n toenemende wêreldwye tendens om die konsep te bevorder dat goeie dierewelsyn meer as net klinies gesonde diere beteken.
Faktore wat ook in aanmerking geneem moet word, is die gemoedstoestand van die dier en die geleentheid om sy natuurlike gedragspatrone uit te leef.
Die voorsitter van die SA Veeartesenykundige Raad het verlede maand op ? kongres in Pretoria die stelling gemaak: “Dierewelsyn is 'n dinamiese en multi-dissiplinêre gebied met mediese en etiese verpligtinge teenoor die fisiese en emosionele gesondheid van diere.”
'n Unieke geleentheid om meer hieroor te leer en te bespreek, word binnekort plaaslik aangebied. Die werksessie is oop vir enigiemand betrokke by dierewelsyn, vir veeartse en ook private persone wat belangstel in goeie praktyke vir diereversorging en hantering.
Benewens die nuwe ontwikkelinge word die welsynsmetodiek van Die Hand aangebied, wat na die dier se totale lewensomstandighede kyk.
Die aanbieding vind plaas op Dinsdag, 11 September, by die Drostdy Hotel en geskied in Engels en Afrikaans. Die program behels aanbiedings in die oggend met praktiese toepassing na middagete. Die ervare aanbieders is van Eseltjiesrus Donkey Sanctuary in McGregor.
Die kursus duur vanaf 10:00 (koffie, tee en ligte verversings vanaf 09:30) en sluit af om 14:00 na middagete en praktiese werk.
Daar is geen koste om hierdie unieke geleentheid by te woon nie, maar bespreking is noodsaaklik aangesien die aantal plekke beperk is.
Kontak Annemarie by info@donkeysanctuary.co.za of op 023 625 1593.
'Ons bring jou die nuutste Graafff-Reinet, Karoo nuus'