KAROO NUUS - Onlangs het die Advertiser Karoo-inwoners aangemoedig om hul stories met ons te deel in Souls of the Karoo, of te wel Siele van die Karoo. Hierdeur, ten spyte van die inperking, kan ons gemeenskap mekaar beter leer ken.
Só hoor ons van Leney de Vrye, wat van jongs af lief is vir woorde. “Tydens hierdie inperking skryf ek daagliks ’n staaltjie en stuur dit vir my vriende,” vertel sy.
Ons deel graag ’n uitreksel uit een van hierdie staaltjies:
Ek het die beste ma in die hele wêreld. 'n Superma. Sy kan alles doen. Sy kan brood bak, beskuit knie, kos maak soos 'n sjef, koek bak soos ’n kampioen. Sy vervang gloeilampe soos 'n hero en sy maak tuin soos mens in tydskrifte sien. Sy maak rokke wat jou asem wegslaan, sy maak kinders groot sommer netso.
Sy verf mure, trek in 'n japtrap en maak 'n plan soos 'n boer. Sy help oral, sy glimlag altyd en sy is onder alle omstandighede die beste human being wat ek ken. Sy los groot, diep spore - gelukkig! Want dit vat my lank om te leer en haar spore dien as padkaart.
Gelukkig vir my het sy my groot gemaak en geleer beauty is in the eye of the beholder.
My tuin is alles behalwe perfek, maar perfek is nog 'n woord wat beslis nie by my pas nie. Perfek is mooi, maar uniek is onbeskryflik. En uniek is my tuintjie beslis.
My sonneblomme mag dalk effens skeef uitgekom het, maar sy geel is steeds geel. En vir my is dit onbeskryflik.
Ons wil graag ook van jou hoor. Stuur ’n foto en meer informasie oor jouself na paula@groupeditors.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'