OOS-KAAP NUUS - Die Valke in die Oos-Kaap, in noue samewerking met wetstoepassingsagentskappe, het 'n sewende verdagte in hegtenis geneem wat verbind word met die ontvoering van die 62-jarige Gqeberha-inwoner Tracey Fourie.
Volgens Luxolo Tyali, mediawoordvoerder van die Nasionale Vervolginsgesag, is die enkelma, Tracey Fourie in die nag van 20 Augustus in Port Elizabeth ontvoer en is haar motor later in New Brighton gevind.
Fourie is op 25 Augustus met haar familie herenig nadat ’n losprys van R200 000 aan die ontvoerders betaal is.
Die Valke-woordvoerder in die Oos-Kaap, luitenant-kolonel Avele Fumba, het voorheen gesê Fourie is as ontvoer aangemeld nadat sy nie van die werk af huis toe gekom het nie en haar motor in New Brighton ontdek is.
SAPD woordvoerder luitenant-kolonel Avele Fumba het gesê Fourie is vir 'n week gevange gehou terwyl losprysonderhandelinge aan die gang was.
Ses aanvanklik in hegtenis geneem
Hy sê dat ses verdagtes reeds in aanhouding was na hul vorige arrestasies, en dat die sewende verdagte Dinsdag by 'n gemonitorde plek in New Brighton opgespoor is, waar hy deur die Valke in hegtenis geneem is.
Volgens hofdokumente is die sewe verdagtes na bewering ontmasker as deel van 'n sindikaat bekend as die Ontvoerings-afpersingsbende.
Die beskuldigdes het Donderdag 4 September weer in die hof in Gqeberha verskyn.
Mthetho Ntleko, Mzameni Matyunza, Malibongwe Dayile, Aviwe Twatwa, Tamsanqa Matlabe en Lulamani Phandle staan tereg op 'n reeks aanklagte, wat insluit sameswering om mensehandel te pleeg, sameswering om ontvoering te pleeg, sameswering om afpersing te pleeg, die besit van 'n seinblokkeertoestel, die betrokkenheid by mensehandel en die onwettige besit van 'n vuurwapen.
Donderdag is bykomende aanklagte met betrekking tot die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad by hul beweerde oortredings gevoeg.
Sewende verdagte
Staatsaanklaer Dail Andrews het aan die hof gesê dat Phandle uiteindelik in hegtenis geneem is nadat hy die eerste keer daarin geslaag het om te ontsnap.
“Hy word ook met die misdaad verbind deur videobeelde van hom wat kos vir die slagoffer by 'n Spar koop,” het Andrews gesê.
Hy het verder gesê 'n gedeelte van die losprysgeld wat vir Fourie se vrylating betaal is, was in Phandle se besit toe hy in hegtenis geneem is.
Beskuldigde nommer vier in die saak, Aviwe Twatwa, het deur sy prokureur aan die hof gesê dat hy steeds onseker is of hy vir borgtog wil aansoek doen en dat hy sy prokureur later instruksies sal gee.
Die saak is uitgestel tot 28 Oktober vir verdere ondersoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’