KAROO NUUS - Hendrik Brigoor se telefoonnommer is op elke boer se foon en sy handewerk pryk oral in die omgewing, maar Hendrik het sy eie storie.
"Seuntjie is nie nou in die dorp nie, maar hy sal netnoumaar weer hier stop," sê Brigoor se buurman oor een van die besigste manne in Hofmeyr.
Die 39-jarige Brigoor, oral bekend as Seuntjie, is in die Hofmeyrdistrik gebore en het op Lesfontein Primêr skoolgegaan tot in graad 5.
"Maar toe werk my pa, Michael Makwena, by Tafelkop, te vêr van Lesfontein af, en toe besluit my pa hy het my nodig in sy draadmaakspan, en toe is my skooljare verby," vertel Brigoor.
"Ons het erg baie rondgetrek en ons was drie kinders. Toe altwee my ouers jonk sterf, het ek eers oorgevat, totdat ons almal kon regkom op ons eie. Ek moes doen wat ek kon, en ek moes werk met wat ek het, maar ek was nog nooit bang vir werk nie."
Brigoor bedryf die grootste draadspanbesigheid in Hofmeyr. Hy bou ook krale en drukgange en staan nie terug as daar sierlike heinings om dorpstuine aangebring moet word nie.
Brigoor bestuur tans ses draadspanne, met vier werkers elk in die Hofmeyeromgewing en nog twee spanne in Cradock.
"Ek het ookal vir my 'n troppie boerbokke aangeskaf en twee melkbeeste wat nou net gekalf het." Brigoor huur die meentgrond en boer naweke kliphard saam met sy 14-jarige seun. "Ek het ook vir my 'n motor aangeskaf dat ons as gesin kan rondry en ek werk elke dag met my bakkie, wat ek self in stand hou, in die distrik."
Hy sorg ook dat die meent se drade heel en reg bly.
Brigoor is in 2019 getroud met Monica Kiwido en hulle het twee seuns en 'n dogter. Die 14-jarige is in Middelburg op skool en dan het hulle 'n dogtertjie van vyf en 'n seuntjie van twee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’