KAROO NUUS - Nadat talle Oos-Kaapse leerders vir weke afwesig was van skole, tydens die staking van vervoeroperateurs as gevolg van nie-betaling deur die departement van vervoer, heers daar nou groot opgewondenheid toe leerders die week terug op die skoolbanke was.
Skoolhoofde vanuit Hofmeyr, Middelburg en Schoombee sê dat leerders weer terug is by die skole en dat toetsreekse reeds in volle swang is.
Personeel en leerders by Schoombee Primêr, tussen Steynsburg, Middelburg en Hofmeyr, is ook baie opgewonde nadat drie personeellede by die skool aangesluit het.
Skoolhoof Elna Jordaan vertel dat haar leerders almal terug is by die skool en sy baie dankbaar is om hulle weer te sien.
Daar hang wel 'n donker wolk oor hierdie blydskap, want volgens Jordaan dreig vervoeroperateurs om volgende week weer te staak as alle tekorte nie onmiddellik oorbetaal word nie.
Schoombee Primêr beskik tans oor ses fasiliteerders en 160 leerders, wat hoofsaaklik vanuit die omliggende boerderygemeenskappe kom en bykans almal afhanklik is van hierdie vervoer.
Luwelda Settler help uit terwyl die gr. R-klas se fasiliteerder vir langtermyn mediese behandeling met verlof is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’