CRADOCK NUUS - 'n Vrou met 'n borrelende lus vir die lewe en baie waagmoed, Ruth Joubert (87), is op 13 Maart oorlede in die Elizabeth Jordaan-tehuis op Cradock.
"Sy was net een ongelooflike kind van die Here, 'n fantastiese vrou, 'n liefdevolle ma, 'n sorgsame ouma en 'n vriendin duisend," sê Karen Geyer, Ruth se dogter.
Ruth het 'n besondere liefde vir geskiedenis gehad, en was van 1985 tot 2000 argivaris en kurator by die Groot Visrivermuseum op Cradock, maar na haar man, Casparus Jacobus se dood, betree sy egter 'n heel nuwe era in haar lewe.
Haar groot roeping was om in lande sendingwerk te doen waar Christene vervolg word, en dit het sy dan ook gedoen.
So het sy in 1993 'n uitreik na Bulgarye gedoen, opgtree as "Visser van Jode" in Rusland in 2008 en gaan werk in Roemenië in 2009. Op 71-jarige ouderdom het sy na Israel gereis waar sy vir 'n jaar in 'n kibboets gewerk het.
"Ruth Joubert se betrokkenheid by Holy Land Ministries het haar oor 'n tydperk van 18 jaar drie keer na Bulgarye, twee keer na Egipte en drie keer na Israel geneem," is daar berig na haar verblyf in Roemenië waar sy kinders versorg het.
Sy het op 78 skape gaan oppas in Italië, en dan op haar af dae met haar rugsak gereis om die land te verken.
"Sy het gereeld oorsee vertrek met net handbagasie. Swaar tasse was volgens haar net 'n las. In Israel het sy klere wat langs die straat uitgesit is geleen - die gebruik in Israel. Voor haar terugkeer het sy die klere weer gaan neersit," vertel haar dogter.
Karen het haar Ma vir die laaste maand versorg. "My ma sou oor haar eie lewe sê: 'Oh my God, what a ride!'"
Ruth (néé Van Rooyen) is as een van 12 kinders op 18 Junie 1933 gebore, en sy was die langslewende. Sy en haar man het vyf kinders, Pieter, Karin, Arno, Jaun en Paul in die lewe gebring. Sy was ook ouma van 15. 'n Troosdiens is Woensdagmiddag by die Elizabeth Jordaan-tehuis gehou.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'