HOFMEYR NUUS - Op 'n hoekerf in Phakamisastraat in Hofmeyr, woon die 29-jarige Roselin Steyn. Die hele werf is 'n plasie in die kleine, met die buitetoilet in die een hoek.
Groente-akkers vol kool, uie en aartappels groei ruig. 'n Paar rooi henne, elkeen met sy saamholbondel lentekuikens, en 'n groot sogvark met 12 babavarkies wat nou net begin eet, hou die inwoners aan die gang. Op die draad wapper die week se wasgoed en die hele straat se kleingoed speel met 'n bal voor die huis.
"Ek het in Molteno Hoërskool skoolgeloop, en na skool het ek gaan leer van die gasvryheidsbedryf by ERA Gastehuis. En dit was vir my baie lekker, maar toe raak ek verlief of Patrick Boyi van Hofmeyr... en hier is nie werk nie," vertel Rosalin.
"Ek het gehoor dat mens daar by Hofmeyr Hugs of Hope verniet kan gaan leer. Hulle het my getoets en toe het ek besluit eerste wil ek leer borduur by Tannie Ronel Gouws."
"Met haar besonderse aanslag het Rosalin dadelik aanklank gevind by die opleiding en kort voor lank kon sy op haar eie tuis gaan borduur. Hugs voorsien alles wat sy nodig het," sê Ronel Gouws, wat die borduurwerkklasse aanbied.
Tydens die Graaff-Reinet Advertiser se besoek, was dié huis en werf 'n miernes van bedrywigheid, maar terwyl alles rondom haar besig was, en die potte kos op die stoof prut, het Rosalin met haar borduurwerk voor die TV gesit. Oral in die bont sitkamer van hulle huis is daar kleurvolle naaldwerkartikels deur Rosalin. Haar liefde vir lap en kleur duidelik sigbaar en haar kussings en lopers verkoop blitsvinnig en verseker vir haar 'n inkomste.
"Die hele straat se kinders kom speel en kom eet hier op Saterdae," vertel Patrick, "maar mý vrou skrik nie. Sy doen haar handwerk terwyl die kos gaar word."
Rosalin steyn se kussings verkoop blitsvinnig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’