KAROO NUUS - Dis algemeen bekend dat die R391-roete tussen Hofmeyr en Molteno die swakste grondpadroete is.
Tog is toeriste baie lief om dié roete hierdie tyd van die jaar te gebruik
Die rede daarvoor is nie die uitdagende toestand van die verwaarloosde grondpad nie. Ook nie die gate, slote, riwwe en klippe op die roete nie. Nog minder gee die groen omgewing na 'n reënbui, wat die roete in 'n glibberige, glyerige, kleierige gemors verander, motorbestuurders die deursettingsvermoeë om die 80 km stuk pad aan te durf.
Maar elke persoon wat enige dag tussen 16 Desember tot die einde van Januarie dié roete gevolg het, getuig van onverbeterlike natuurtonele, wye uitsigte oor die klowe van die Bamboesberg, die groot bederf om oor die Groot Doornhoekpas of Klein Doornhoekpas teen 'n slakkepas teen loopspoed te klouter, en dan natuurlik ook die koraal sonsondergange wat buitengewoon merkwaardig en eie aan die omgewing is.
Elke Kersvakansie word hierdie roete ook in goudgeel getooi deur die duisende doringbome wat vol in die blom staan. Talle toeriste stop graag en neem foto's van die skouspel, al neem dit hul twee uur langer om hul eindbestemming te bereik.
Die goudgeel blomme van die doringbome is 'n lus vir die oog. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuuste Graaff-Reinet, Karoo nuus'