CRADOCK NUUS - Heinrich Muller, lid van die Oos-Kaapse Provinsiale Wetgewer, deel mee dat daar ’n voortdurende rioolkrisis in die Inxuba Yethemba Plaaslike Owerheid (IYLM) heers, waar rou, onbehandelde riool direk in die Groot-visrivier gestort word.
Hierdie stortings besoedel ’n noodsaaklike waterbron en hou ’n ernstige bedreiging in vir die gesondheid van inwoners en die omliggende ekosisteem.
Ten spyte van herhaalde waarskuwings van DA-raadslede en besorgde gemeenskapslede, het die IYLM en die Chris Hani-distriksmunisipaliteit versuim om op te tree.
Die munisipaliteit beweer dat herstelwerk en opgraderings aan die gang is by die Cradock-afvalwaterbehandelingswerke.
Tog bewys die voortgesette besoedeling dat hierdie pogings óf ondoeltreffend óf onvolledig is, en dat geen tussentydse maatreëls ingestel is om die skade te verminder nie.
Talle verslae is deur die DA-raadslede ingedien, en Muller het formele parlementêre vrae aan die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Zolile Williams, gestel.
Tot op hede is geen betekenisvolle stappe geneem nie.
Die DA het aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie geskryf en ’n amptelike klag ingedien waarin versoek word dat ’n dringende ondersoek na die rioolbesoedeling van die Groot-visrivier geloods word, asook die munisipaliteite se weiering om effektiewe tussentydse maatreëls of finale herstelwerk by die Cradock-afvalwaterbehandelingswerke te implementeer.
Daar is ook gevra dat:
• Die openbare gesondheidsrisiko’s en die ekologiese impak wat veroorsaak word deur die voortdurende storting van rou riool assesseer word.
• Munisipale amptenare wie se onaktiwiteit of wanbestuur tot hierdie krisis bygedra het, identifiseer word en aanspreeklik gehou word.
• Onmiddellike remediërende stappe aanbeveel word, insluitende tussentydse infrastruktuurmaatreëls en noodondersteuning vir geaffekteerde inwoners.
• Deursigtige en deurlopende kommunikasie met die publiek rakende waterveiligheid, gesondheidsrisiko’s en remediërende tydlyne verseker word.
• Dit as ’n skending van omgewings- en menseregte, soos vervat in die Grondwet, erken word.
Muller versoek voorts dat kritieke infrastruktuur sonder versuim herstel moet word. Hy meen die mense van Cradock is in die steek gelaat, en dat hulle gesondheid, waardigheid en regte geïgnoreer word.
Hy sê daar sal voortgegaan word om saam met hierdie gemeenskap te staan en elke politieke en wetlike weg sal nagestreef word om die regering te dwing om op te tree.
Hy moedig die inwoners aan om voort te gaan om die krisis te dokumenteer en verslae en foto’s in te dien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’