Gallery
KAROO NUUS - Die ou spreekwoord, 'dit reën katte en honde', was behoorlik die geval toe rekord getalle reën die afgelope naweek, van Vrydag 10 Mei tot Sondag 14 Mei in die Kamdeboo-streek geval het.
'n Ysige naweek en baie reën het mense in die omgewing behoorlik laat bontstaan en is verskeie beplande sportbyeenkomste soos die rolbaltoernooi in Graaff-Reinet, Saterdag gekanselleer.
FOTOGALERY: Rekord reënval in Kamdeboo-streek
Die Kamdeboorivier wat die N9-hoofweg tussen Graaff-Reinet en Aberdeen kruis en gewoonlik 'n onopvallende deel van die landskap langs die pad is, het verander in 'n merkwaardige, druisende rivier en het heelwat mense Sondag spesiaal na die rivier gery om na die skouspel, wat 'n rare gesig is, te gaan kyk.
Die naweek se ongekende aanhoudende sarsie reën is ongekend vir dié gebied en het daartoe gelei dat meerdere plaas- en erosiedamwalle gebreek het. Die reën, gekombineer met die opgevangde water uit die gebreekte damme, het egter momenteel vele droë rivierlope in skrikwekkende vloedriviere verander.
Dis egter veral boere op plase in die Aberdeen-distrik wat onder die oorvloedige genadewater deurgeloop het.
Op die plaas van Pen Marx, The Ranges, is meer as 300 mm van Vrydagnag tot Sondag gemeet. Op Dowefontein het Heinrich Marx oor dieselfde tyd, 159 mm gemeet.
Op die plaas Wynberg van Umelda van Rensburg en die plaas Midlands van Maryke Lategan het hulle ook laat weet dat ver meer as 200 mm vir die naweek gemeet is.
Heelwat boere wat van grondpad-toegangsroetes tussen hulle plase en die teerpad (R61) afhanklik is, was teen Sondag, as gevolg van die Kamdeboorivier se hoë watervlak, op hul plase vasgekeer.
Veral die vloedwater by die Sementblad-deurgang tussen Arnold de Jager se plaas De Kruis en Koringdal, het boere aan die anderkant van die deurgang afgesny. Een van die ervare boere in die omgewing, Hommie Slabbert van die plaas Louisan, het gesê het dis die eerste keer sedert 1961 dat dit so lyk.
Eers teen Dinsdagoggend, 16 Mei, het een van die boere die deurgang met 'n trekker gewaag en kort daarná het ander ook gevolg.
Boere in die omgewing het infrastruktuur-skade gely met paaie, heinings en damwalle wat beskadig is.
Talle boere het groot skade gely met volstruise wat dood is en teen Dinsdag, 16 Mei was daar steeds boere wat nog nie by hul vee kon uitkom, om hulle te voer nie.
Met die ergste koue verby en die eerste sonskyndag Dinsdag, het boere onverpoosd begin om infrastruktuur te herstel.
Die sementblad wat gewoontlik geen of min water het, het die naweek water, wat bokant 'n voertuig se dak uitstyg gedra. Foto: Umelda van Rensburg
Die Buffelsrivier het sterk gevloei nadat aanhoudende reën die naweek in die omgewing geval het. Foto: Jan-Hendrik Swiegers
Umelda en Derick van Rensburg van die plaas Wynberg, kon tot Dinsdag nie te by hulle plaashuis uitkom nie omdat drie van hul damme se walle gebreek het. Foto: Umelda van Rensburg
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’