GRAAFF-REINET NUUS - Die koraalpienk NG Kerk in Hofmeyr kry 'n splinternuwe verflaag en dié historiese kerkgebou se oratorium was die ruimte waar die gemeenskap en gaste die afgelope Sondag, 24 November, 'n kerssangdiens kon bywoon.
Die sanggroep van die bekende musikant, Wicus van Rensburg van Burgersdorp, met begeleiding deur homself, orrelspel deur Dr Christo Kritzinger en solosang deur Abigail Henning (8), ook van Burgersdorp, het die koepel van die historiese kerkgebou gevul.
Befaamde plaaslike orrelis, Willem van Heerden, het ook solosangers afgerig en begelei. Janet Fourie, 'n plaaslike inwoner en voltydse apteker in Cradock, asook TP Vorster, 'n boer vanuit Middelburg, het ook deelgeneem en met sterk sangstemme bekoor.
Soos elke jaar was die kleuters voltallig en die pappas en mammas moes slim planne maak om hul besig te hou, maar klein elektroniese flikkerliggies het gehelp!
Na afloop van die diens was daar oudergewoonte 'n heerlike onthaal in die kerksaal met swaarbelaaide tafels en keurige eetgoed waar almal die afgelope jaar se nuus kon opvang.
Klein flikkerliggies is die moderne kerse en het die kleingoed deurgaans betower.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’