GRAAFF-REINET NUUS - Professor Hendrik Christo Viljoen, Hoër Volkskool se heel eerste hoofseun, is op Vrydag 13 Januarie op 85 oorlede.
Viljoen, gebore in Graaff-Reinet op 31 Augustus 1937, het van jongs af uitgeblink as leier en presteerder.
Hy het in 1954 as hoofseun en duxleerling van Hoër Volkskool gematrikuleer en daarna het hy die grade B.Sc, B.Ing. (Elektrotegniese Ingenieurswese, swak- en swaarstroom), en later ook die grade M.Ing. (Elektroniese Ingenieurswese) en Ph.D (Ing), aan die Universiteit van Stellenbosch behaal.
Viljoen het verskeie toekennings verwerf, onder meer die Orde vir Voortreflike Diens van die staat, en ook 'n reuse openbare rol gespeel. Hy was 'n ervare en welsprekende openbare figuur en het gedien op beheerrade van die SAUK (Voorsitter van 1989 - 1993), Eskom, SABS, die Elektrisiteisbeheerraad (tans Nersa) en die Universiteitsraad van die Universiteit van Stellenbosch, onder meer as President van die Konvokasie.
Uit sy pen het verskeie wetenskaplike en populêr-wetenskaplike publikasies, wetenskaplike woordeboeke, asook boeke oor die elektronika en genealogie (familie-registers) verskyn. Hy word ook beskou as die vader van Tegnopark, Suid-Afrika se eerste wetenskaps- en innovasiepark, in Stellenbosch.
Gesinsman
Sy dogter, Marenka Krige, vertel dat hy nie net 'n ingenieur, akademikus, innoveerder en skrywer was nie, maar ook 'n liefdevolle gesinsman. Sy huwelik met Hana Stehlik was die begin van 'n familiestorie wat hy self met toewyding gedokumenteer het - sy kinders en kleinkinders onthou hom helder as die figuur wat altyd heel voor teen die verhoog gestaan het om 'n video van hul konsert te neem, of die een wat nóg 'n familiefoto vervolmaak het.
"In akademiese kringe en die sakewêreld was hy 'n legende. Vir ons was hy 'n onuitputbare bron van kennis, liefde, mededeelsaamheid en tradisie," sê Krige. "Aan die een kant was hy 'n ervare, welsprekende openbare figuur en gerespekteerde denker en leier wat voortdurend besig was om innoverend te dink, nuwe resepte te beproef, en grense te verskuif. Aan die ander kant was hy 'n gesinsman met vaste oortuigings en roetine. 'n Foutlose Kersvader, altyd met 'n geloofwaardige storie vir die kleinkinders," voeg sy by.
"Hy is die een wat ons gereeld herinner het om elke dag iets nuuts te leer en hierin het hy natuurlik 'n uitsonderlike voorbeeld gestel. Hy het belanggestel in elkeen van ons en elkeen het presente gekry wat fyn gemik was op dit wat ons op elke ouderdom interesseer het met 'n kaartjie wat hy self gemaak het. Terselfdertyd was hy verbind daartoe om regverdig te wees."
Krige noem dat hulle vandag nog die oes van saadjies wat Viljoen lank gelede geplant het kan waarneem – studente wat hy deur diep waters gelei het, junior kollegas wat hy touwys gemaak het, families wat hy raadgegee het oor familie navorsing en genealogie, en tyd wat hy spandeer het om verenigings te vestig.
Liefde vir Karoo
Viljoen was baie lief vir die Karoo, Graaff-Reinet en in besonder Hoër Volkskool. Een van sy hoogtepunte van verlede jaar was die Eeufeesviering van Hoër Volkskool in Augustus, wat hy en Hana bygewoon het. Sy matriekklas van 1954 het ook gereeld reünie gehou en het al die jare kontak gehou met mekaar.
"Hy was 'n merkwaardige mens en sy familie gaan hom baie mis," sê Krige. "Ons sal altyd aan hom dink as ons by Tegnopark in Stellenbosch verbyry, as ons deur die Neelsie stap, as ons die SABC kenteken sien of na 'n kuberwoord of ruimteterm in Afrikaans soek. Vir ons was hy 'n baanbreker op 'n internasionale verhoog, maar terselfdertyd 'n oupa wat gehou het van jag, blokkiesraaisels en vanielje roomys. Ons sal hom onthou vir al die groot suksesse wat hy bereik het, maar nog meer vir al die klein, alledaagse dinge wat hom so 'n betekenisvolle teenwoordigheid in ons lewens gemaak het."
Prof. Viljoen laat sy vrou, Hana, drie kinders, Marenka Krige, Annakie Gammon en Francois Viljoen, en sewe kleinkinders agter. Hy word op Saterdag 21 Januarie om 10:00 uit die Moederkerk in Stellenbosch ter ruste gelê.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'