OOS-KAAP NUUS - Die diefstal van koper vier hoogty in die Oos-Kaap waar talle dorpe, en selfs stede, deurloop onder koperdiewe wat sonder enige insig in die gevolge, koper uit kragdrade en ook vanuit geboue steel.
Kapt. Marius McCarthy, polisiewoordvoerder, het op 20 Junie meegedeel dat ’n intelligensie gedrewe operasie gelei het tot die inhegtenisneming van nege verdagtes tussen die ouderdom van 26 en 46 jaar, vir die besit van vermoedelik gesteelde koper ter waarde van meer as ’n halfmiljoen rand.
Inligting is op Vrydag 19 Junie ontvang rakende ’n Isuzu-bakkie met ’n verdagte vrag, wat van Ku Gompo na Gqeberha onderweg was.
Verdere inligting het aangedui dat die betrokke bakkie weens meganiese probleme langs die R72 naby Kenton-on-Sea gaan staan het.
Die Port Alfred Misdaadintelligensie-eenheid, bygestaan deur die Port Alfred K9-eenheid, Port Alfred CPU, Port Alfred-speurtak en Port Alfred FCS-speureenheid, het die Isuzu-bakkie opgespoor waar dit langs die R72 naby Kenton-on-Sea geparkeer was.
Daar was twee ander voertuie saam met die verdagte bakkie.
Die polisie het die bakkie deursoek en 1.6 ton koperkabels gevind wat onder ’n matras agter in die bakkie versteek was.
Die smokkelware word op R600 000 gewaardeer.
Uit die tweede voertuig was daar gereedskap wat in koperdiefstal gebruik is.
Die drie voertuie, asook elf selfone is vir verdere ondersoek gekonfiskeer.
Nege mans is vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem, en sal binnekort in die Kenton-On-Sea-landdroshof verskyn.
Die publiek word gevra om enige verdagte voertuie aan hul naaste polisiekantoor te rapporteer, sodat daar saamgewerk kan word om misdaad in die Oos-Kaap te verminder en pogings aangewend kan word om roetes in die provinsie misdaadvry te verklaar deur sigbare polisiëring en die ondersteuning van die publiek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’