ABERDEEN NUUS - Lizemari Jordaan van die plaas Nuwerust, Aberdeen-distrik, se talent om die lewe met haar kameralens vas te vang, is onlangs bekroon met ‘n gesogte prys. Jordaan is ‘n lid van die Aberdeen VLV-tak en op 15 Augustus het ‘n foto van haar in die jaarlikse VLV Kaapland-kompetisie die tweede plek behaal met ‘n skitterende 97% - die eerste plek het 99% behaal.
Lea van der Vyver, voorsitter van die Aberdeen-tak, sê dit is die eerste keer dat Sirkel Middelland - om nie eers te meld nie, die Aberdeentak - so goed presteer in die kompetisie.
Van der Vyver het die jaarlikse Kaaplandkongres bygewoon waartydens die presteerders in die verskillende kategorieë aangekondig is en het met trots Sirkel Middelland se sertifikaat en wisseltrofee in ontvangs geneem.
Jordaan sê elke VLV-lid het die geleentheid om deel te neem, maar mag net een item inskryf. Die eerste beoordeling geskied op Sirkelvlak en alle inskrywings wat daar meer as 80% ontvang, word dan ingeskryf vir die Kaaplandkompetisie. "Daar is verskeie riglyne waaraan inskrywings moet voldoen. In die fotografie-afdeling was die tema vanjaar, Sonsopkoms - begin van ‘n nuwe dag."
In die fotografie-afdeling word verskeie elemente beoordeel, asook die titel en Jordaan se foto, Belonings vir vroeg opstaan is op Stilbaaistrand geneem.
Jordaan vertel sy het op die strand gestap, die pansyskulp raakgesien, die son het opgekom en toe gebeur die foto net! "Pansyskulpe maak my kinderlik opgewonde. Ek wou eintlik net die skulp afneem om vir my ma te wys."
Jordaan se ma het jare gelede self as dogtertjie gereeld op dieselfde strand gestap, gespeel en skulpe opgetel wanneer hulle vir haar ma se ouma gaan kuier het.
Jordaan het die pansy met haar selfoon afgeneem, want haar kamera was by die huis.
Haar foto is hierdie week die Graaf-Reinet Advertiser se kiekie van die week op bl4.
Lizemari Jordaan, haar man Pieter en seuns, Hernu (links) en Gerrit. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’