CRADOCK NUUS - Die tafels in die Cradock-Oos kerksaal het behoorlik gekreun onder die kos by die pik-en-proe aand wat op 23 Mei as fondsinsameling vir die Vukasebenze Sentrum aangebied is.
Vukasebenze (Xhosa vir "word wakker en werk") lewer al sedert sy stigting in 2008 'n lewensveranderende diens aan bejaarde, gestremde en werklose Cradock-inwoners.
Ondersteuners op die aand het almal hul gunsteling eenskottelgereg voorberei.
"Dit was ongelooflik om te beleef hoe die gemeenskap van Cradock gegee het!" sê Petra Breytenbach, die sentrum se tesourier.
"Uiteindelik was daar drie soorte sop met tuisgebakte brode, 18 verskillende eenskottelgeregte, en agt tot 10 verskillende poedings, met vla.
Dit was 'n ete by uitnemendheid."
Sy sê dat proponent Liesel Nieuwenhuizen en die bestuur van die Vukasebenze Sentrum alles voorberei het.
"Pryse by die gelukkige trekkings was sjokolade, 'n gehekelde kombers, en 'n geskenkbewys vanaf Vukasebenze waar 10 kg wasgoed, gratis gewas, en gestryk sal word!"
Carien Nel, skriba van die Cradock Oosgemeente, het die tafels kleurvol versier.
Wye verskeidenheid dienste
Die sentrum lewer nie net dienste aan passiewe ontvangers nie.
Hulle het 'n baie progressiewe filosofie oor gee: Wie werk mag eet.
Elkeen wat wil eet, moet 'n kaartjie hê vir die ete.
Kaartjieboekies word verkoop en motorwagte, bedelaars en los werkers kry dan 'n kaartjie. Ander moet plastiek- of glasbottels optel wat hulle inhandig vir kos.
Etes op wiele vir pensioenarisse word ook deur die publiek geborg.
Die sentrum se dienste sluit ook talle inkomstegenererende projekte in.
Hulle handig kos uit, en maak en verkoop brood, koeke, skons en kerriehasies (bunny chows) vanuit hul kombuis.
Klere, komberse en ander huishoudelike items wat aan Vukasebenze geskenk is, word teen buitengewone goedkoop pryse verkoop by tweedehandse winkels.
Hul goed toegeruste biblioteek bevat tydskrifte en boeke uit openbare skenkings.
Hul rekenaarsentrum het ook vyf rekenaars waarop opleiding aan minderbevoorregtes teen 'n klein fooi aangebied word.
Vroue word opgelei om naaldwerk te doen en hierdie items word aan die publiek verkoop.
Hulle doen ook herstelwerk aan klere.
Opleiding in restourasie en meubelmakery word aangebied. Groentetuine verskaf groente vir die etes wat daagliks uitgedeel word.
Hulle verskaf ook 'n wasgoeddiens aan die publiek.
Die sentrum het 14 personeellede uit alle gemeenskappe, insluitend 'n jong man met Downsindroom en 'n ouer man met leerprobleme.
Danksy vriende uit Nederland is ses slaapkamers gebou, waarvoor beddegoed en handdoeke geskenk is.
Na sewe jaar genereer hierdie slaapgeriewe 'n groot inkomste.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’