HOFMEYR NUUS - Vier vroue van die Philipstown Draadkar nie-winsgewende organisasie het Woensdagoggend, 4 Februarie, voor 06:00 uit Philipstown vertrek om Hugs of Hope in Hofmeyr te gaan besoek.
“Ons wou die mooiste pienk kerk in Suid-Afrika sien, en sien hoe die dorpie lyk, maar bowenal het ons kom raad vra,” vertel Esmé Grobler, entrepreneur van Philipstown.
Die Philipstown-vroue, Judi van der Linde, Zelna Tokani, Lida McQuade en Grobler, wil eersdaags met ’n paar nuwe projekte in Philipstown begin.
Die 270 km-rit het nie sonder insident verloop nie - behalwe vir talle swaar vragmotors op die pad het hulle ook kortstondig “verdwaal” toe hulle deur die globale posisioneringstelsel op ’n grondpad gelei is!
Hulle het egter hul bestemming, die naaldwerklokaal in Hattinghstraat, bereik, waar hulle deur Gladys Hayiya verwelkom is en tussen die naaimasjiene, mooi materiale en klaar- en halfklaarkwilts kon kuier.
Die geselskap het moeiteloos gevloei terwyl wenke uitgeruil is, kwilt- en laslappatrone gedeel is, kralewerk-artikels en pakke krale deurgekyk is, houers met kant deurgesoek is vir “daardie stukkie wat perfek op ’n klaar artikel gaan pas”.
’n Heerlike koffiebreek was natuurlik ook deel van die kuier.
Hou Philipstown se Draadkar vereniging dop - daar is vroue wat wéét wat hulle wil doen!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’