GRAAFF-REINET NUUS — 'n Droom vanuit haar tienerjare het uiteindelik waar geword toe Sanet van Tonder vanjaar, op 42-jarige ouderdom, 'n onderwysgraad verwerf het.
Sy is 'n ma van drie kinders, pastoriemoeder en dus die vrou van Dr Ben van Tonder, die NG Kerk leraar op Graaff-Reinet.
Sanet het op 35-jarige ouderdom by Unisa ingeskryf vir haar graad met die oog op 'n honeursgraad in opvoedkundige sielkunde.
"Ek wil deur die kennis van my studies, graag jongmense help om gesonde keuses te maak in die regte loopbaanrigtings," sê Sanet.
Sy sê die grootste uitdagings was altyd finansieël.
"Ek het nie geweet waar die finansies vandaan gaan kom nie, maar het oral in die huishouding 'n paar Rand afgeknyp en net die nodigste vakke gekies sodat ek dit kon bekostig om te studeer."
Met drie kinders in die huis en op 'n stadium twee werke gelyktydig, haar pligte as pastoriemoeder en boonop nog studeer, was dit nie aldag maklik vir Sanet nie.
"Maar gelukkig is daar nou finansiële hulp met die regering se nuwe skema om studente te help."
Sanet sê sy wil baie graag ander mense help om hul drome te verwesenlik.
"Dit is moontlik om iets te kan bereik as jy werklik daarin glo. Daar is so baie ander mense, en in besonder vroue, wat nooit die geleentheid gehad het om te gaan studeer nie."
Sy meen die groot rede daarvoor is die gebrek aan finansies of sosiale druk op vrouens "omdat hulle nie in vroeë jare die 'broodwinners' van 'n gesin hoef te gewees het nie."
Sy sê die ondersteuning van haar gesin was ongelooflik.
"My man het bankvas agter my gestaan, my gemotiveer, koffie aangedra, NikNaks gaan koop en gekyk dat die kinders rustig is."
'n Tweedejaar onderwys-student van Graaff-Reinet, Francois van Zyl (20) het aan die Advertiser vertel hoe Sanet hom ondersteun het.
Van Zyl beskyf haar as 'n persoon wat altyd tyd het om ander te help waar dit ookal nodig is.
"Tannie Sanet is baie vriendelik en ook iemand om na op te kyk. Ek waardeer die hulp opreg baie."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'