KAROO NUUS - Graaff-Reinet Advertiser het onlangs berig oor die algehele verval en uiteindelike sluiting van Urquhart Park - eens op 'n tyd die agtste beste karavaanpark in die land.
Die park is gesluit nadat Bennie Roman, die voormalige huurder en bestuurder, die perseel op 8 Junie ontruim het.
'n Betroubare bron het toe gesê die park sal gesluit bly totdat die Dr Beyers Naude se munisipale raad 'n besluit oor die pad vorentoe gemaak het.
Die bespreking oor die toekoms van die Urquhart Park was deel van die agenda van die raadvergadering op Woensdag 14 Augustus, maar die vergadering is uitgestel omdat ANC-raadslede glo 'n tussenverkiesing in die Koukamma-munisipaliteit, waar daar 'n ernstige toutrekkery tussen die ANC en die PA was, bygewoon het.
Die kwessie is toe tydens die spesiale raadsvergadering op 28 Augustus bespreek en die raad het beslis dat die park nie verkoop kan word nie omdat 'n groot deel van die gemeenskap die verkoop van munisipale bates reeds sedert 2021 heftig verwerp. Die munisipaliteit kan ook nie self Urquhart Park herstel nie, weens 'n geldtekort.
Aanbevelings aanvaar
Die volgende aanbevelings van die munisipaliteit se uitvoerende kommitee (ExCo) is aanvaar:
- Die munisipaliteit moet 'n proses van publieke deelname inisieer waartydens die gemeenskap in kennis gestel moet word dat die park nie verkoop of herstel kan word nie, en gevra moet word vir insette.
- Na afloop van hierdie proses moet 'n tender uitgesit word vir enige persoon of instansie wat sou belangstel om in die park te belê en tot voordeel van die gemeenskap op te knap en te onderhou. Raadslid Ewald Loock het genoem dat dit dalk vergesog mag klink dat iemand dit sal wil doen, maar hy glo dat baie inwoners graag wil hê dat die park tot sy voormalige glorie herstel word.
- Voordat hierdie tender uitgesit word moet die munisipale bestuurder eers regsadvies inwin om te verseker dat die roete wettig is.
Aanbevelings afgekeur
Die volgende aanbevelings van die ExCo is afgekeur:
- Dat 'n kriminele saak aanhangig gemaak moet word teen die persone wat die park so verniel het. Benewens Roman wat, na bewering, grootliks verantwoordelik is vir die verwaarlosing, is daar ook glo ander individue wat skuldig is. Die ANC was egter van mening dat dit nie nodig is vir die munisipale raad om dit te doen nie omdat dit 'n administratiewe aangeleentheid is en die munisipale bestuurder dus self na die polisie moet gaan om 'n saak te maak.
- Nog voordat die toekoms van die Urquhart Park deur ExCo bespreek is het een van die ANC-raadslede in 'n plasing op sosiale media beweer dat die raad besluit het om die park te verkoop.
Dit was nooit deel van ExCo se aanbevelings nie en daarom was die aanbeveling dat die betrokke raadslid deur die Speaker aangespreek moet word.
Die ANC het egter gevra dat hierdie aanbeveling geskrap word.
Bates nou laste
Die waarnemende hoof van finansies, Jimmy Joubert, het in 2022 al aan die gemeenskap verduidelik dat die besluit om munisipale bates wat 'n finansiële las geword het, van die hand te sit, juis op grond van die munisipaliteit se finansiële status geneem is.
Hy het genoem dat die swak finansiële posisie van die munisipaliteit toegeskryf kan word aan historiese skuld wat geërf is deur die samesmelting van die destydse Camdeboo-munisipaliteit met die skuldgeteisterde Ikwezi en Baviaans munisipaliteite, asook die versuim van die nasionale regering om sy belofte na te kom om die skuld te vereffen. Die inkomste wat uit die verkoop van munisipale bates gegenereer sou word sou nie genoeg wees om al die munisipaliteit se skuld te delg nie, maar wel die mees dringende skuld. Op daardie stadium het die skuld tussen R360 miljoen en R400 miljoen beloop.
Dit het skuld aan krediteure soos Eskom, die staatspensioenfonds, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering en die Ouditeur-Generaal ingesluit.
Hierdie skuld het intussen gegroei en staan deesdae op R616 miljoen.
Die verval en verwaarlosing is duidelik sigbaar by die ingang na Urquhart Park.
Urquhart Park bied kampplek en eenhede.
Die eens gewilde kampterrein is nou 'n seer oog.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’