Update
OOS-KAAP NUUS - 'n Opvolg op die padtoestande in die Oos-Kaap is vanoggend deur die Oos-Kaapse departement van vervoer vrygestel.
Die departement se woordvoerder, Unathi Binqose, sê dat die N9 tussen Middelburg en Graaff-Reinet, insluitend die Lootsbergpas, gesluit is en verkeer beweeg stadig onder streng toesig van verkeersbeamptes.
Op die R61 na Graaff-Reinet oor Wapadsberg vanaf Nxuba, beweeg verkeer stadig onder streng beheer van verkeersbeamptes.
Daar is tot dusver geen voertuigbeperkings nie, maar verkeervloei is stadig.
Die N10 tussen Cookhouse en Nxuba (Cradock) is vanoggend vroeg weer vir verkeer oopgemaak nadat dit byna agt uur lank gesluit was ná 'n botsing tussen twee vragmotors.
Die ongunstige weerstoestande en dik sneeu op die bergpasse het tot die vertraging bygedra, aangesien die sleepwa wat die wrak moes berg, ook deur die sneeu moes navigeer.
Dit is verder vererger deur motoriste en vragmotorbestuurders wat die pad versper het in hul pogings om te vorder.
Die departement het om verskoning gevra vir die ongerief.
Sneeuval in hierdie areas bly swaar en die N10 is nat en glad. Slegs motors word deurgelaat, onder streng toesig van verkeersbeamptes. Swaar voertuie word nie toegelaat om deur te ry nie.
Die N6 tussen Queenstown en Jamestown, insluitend die Penhoekpas, is oop vir verkeer maar slegs onder streng voorwaardes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’